[caption id="attachment_121393" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Dis vir ons albei soos om tussen twee vure te sit: ’n koue en ’n warm een. Saam ry ons gedurig op ’n wipplank. Eendag sit Mnr. Manies (49) hoog daarbo en ek (42) hier onder in sak en as. Dan is dit geld wat vlerke kry; by die plaaslike kroeg en klerewinkels.

Dis ’n rondhardloop tot vroegoggend deur die strate van Seepunt om seker te maak niemand kry seer nie. By die woonstel blêr Pavlov’s Dog op repeat tot vroegoggend, tot die deurwag vir die soveelste keer kom vra om dit sagter te sit. Die bure kla. Ek durf nie aan die volumeknoppie raak nie, want dan vlieg swaar glas-asbakke deur die woonstel; glase, boeke en eetgerei wat verf en pleister uit die mure laat ontplof.

En môre het die storm bedaar, want die pille wat ek eindelik afgesluk het, begin hul werk doen. Depressie klop vir die volgende paar dae gereeld aan die deur met dreigemente van selfdood. Dan word ek ook afgetrek. Die skoppelmaai tussen manie en ’n depressiewe gemoed kan op dieselfde dag, selfs in dieselfde uur, die aarde laat kantel.

Dit vandag Wêreld-bipolêredag, wat bewusmaking oor hierdie psigiatriese siekte aanmoedig.

“Om iemand vir wie jy lief is te sien wegkwyn en sukkel met iets wat jy nie verstaan nie, is nie maklik nie,” vertel Herman le Roux van Pretoria. Hy is die senior-administrateur van die webtuiste en Facebook-groep vir die steungroep Bipolar(s) Supporting Bipolars (BSB).

“Soms word ons ongeduldig, ander kere kwaad. Ons kan nie altyd verstaan dat iemand so kan voel nie, want ons het nog nooit so gevoel nie. Dit maak ons ook hartseer, want die mens wat ons geken het, word soms ’n vreemdeling vir ons. Ons weet nie altyd waar ons staan of wat presies besig is om te gebeur nie. Ons is maar net leke, in iets wat so kompleks is,” voeg hy by.

“Onthou net dit: Ons is die ander kant, ons sien wat dit doen, hoe hartseer dit julle maak, hoe julle daarteen baklei. Ons is trots op julle wanneer julle opstaan en terugbaklei. Die ding wat ons die meeste wil hê, is dat julle moet hoop hê, dat julle moet gelukkig wees,” vertel Herman.

Steungroepe soos BSB bied ’n veilige plek aanlyn om uit te reik en bystand te kry vir diegene wat daarmee leef en vir hul geliefdes. Gaan na BSB op Facebook of bsbwebsite.com.

Vir nog inligting en verwysings na kundiges en ander steungroepe, besoek die webtuiste van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag), sadag.org of bel 011-234-4837. Bel die Geestesgesondheid-inligtingsentrum by 021-938-9229 of stuur e-pos na mhic@sun.ac.za.

? Die artikel is deur die Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl geskryf. Pieter is ’n 2015/2016-genoot van die Pfizer Mental Health Journalism Awards. Vir hulp bel die Sadag-nommer by 011-234-4837. Het jy ’n geliefde wat met enige soort psigiatriese siekte leef? Stuur jou kontakbesonderhede en kort samevatting van jou ervarings na die skrywer van dié artikel by pvanzyl@huisgenoot.com.

Ander storie op Huisgenoot.com

Kyk: Dié 7 akteurs besit hotelle – en so lyk dit!

Gelukkige einde vir oupa ná ’n hartseer foto van hom soos ’n veldbrand versprei

‘Sy gee my hoop’: Neels van Jaarsveld gesels oor die toekoms, die liefde in sy lewe

Anneli van Rooyen praat oor haar siekte: ‘Soms is daar amper niks van my oor nie’

Jay vier 20 jaar in die musiekbedryf; en gesels oor daai val . . .