Hulle sê Fidel Castro, die glorieryke of goor (afhangende van jou politieke voorkeur) eertydse Kubaanse leier, het oor die 600 sluipmoordaanvalle oorleef, maar nie eens hy kon 2016 oorleef nie.

Wie die “hulle” is wat hierdie kwinkslae uitdink, weet nugter alleen, maar “hulle”, “hul” nefie, skoonsuster, nefie se dogter se vrou se broer se oom se kleinkind -- almal -- is dit in die sosiale media eens: 2016 was rampspoedig.

Maar is dit werklik so? Ja, dit was ’n chaotiese jaar in die wêreld se politieke landskap en plaaslik het pres. Jacob Zuma en sy kornuite se manewales joernaliste soos Pokémon Go-verslaafdes selfone in die hand al twietend van die een skandaal na die ander laat spaander, maar was 2015 regtig so wonderlik en het ’n mens enige waarborge dat 2017 enigsins beter gaan wees?

Kan ’n mens uitsien na ’n jaar waarin Donald Trump as die 45ste president van die Verenigde State van Amerika ingelyf word as ’n goeie een? En die aanhoudende terreuraanvalle wat ons gemoedere tot op die jaar se nippertjie teister – sal dit ophou in 2017?

G’n mens weet nie, is die eenvoudige antwoord.

Wat wel ’n feit soos ’n Nkandla-koei is, is dat onse president, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, ’n annus horribilis beleef het.

Eers moes hy in die konstitusionele hof die ontbering verduur dat hy ons land se Grondwet oortree het deur nie ag te slaan op adv. Thuli Madonsela (die voormalige openbare beskermer) se verdoemende verslag oor die sogenoemde “veiligheidsverbeteringe” by sy herewoning in KwaZulu-Natal nie.

Daarna is in die wandelgange gefluister hy het Nhlanhla Nene (voormalige minister van finansies) verlede jaar in opdrag van sy hegte vriende die Gupta-familie van Saxonwold so onverwags afgedank.

Dié sagte geskinder het ’n groot doring in die president se vlees geraak toe die stoere Vytjie Mentor (’n voormalige ANC-parlementslid) op Facebook aanvoer die einste Gupta-broers het haar al voorheen ’n kabinetspos aangebied. Boonop was Zuma op die toneel om haar te bemoedig nadat sy hul aanbod van die hand gewys het, beweer Mentor.

pravin waarntoe

Nene se afdanking was ’n groot slag vir die ekonomie en Zuma is gedwing om Suid-Afrika se geldkluis se sleutels weer aan die formidabele Pravin Gordhan te oorhandig. Dié is natuurlik weer op sy beurt met groot trompetgeskal in Oktober van bedrog aangekla, maar adv. Shaun Abrahams (hoof van die nasionale vervolgingsgesag) moes ná ’n maand terugkrabbel en erken die saak teen Gordhan was so dun soos die papier waarop die klagtes aangedui is.

Verskeie burgerlike organisasies eis nou Abrahams se kop oor die onnodige skade wat dié skuif die ekonomie berokken het.

Intussen het die resultate van die munisipale verkiesing in Augustus onse uBaba (soos die Twitterati na Zuma verwys) se jaar verder versuur: Die ANC moes vir die eerste keer sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het drie groot stede aan opposisiepartye afstaan, en Madonsela se swanesang het die sluier gelig oor die baantjies vir Gupta’s, wat “staatskaping” sweerlik een van ons land se gonswoorde vir 2016 gemaak het.

verkiesing

Tog is dit nie net die politiek wat ons vanjaar soms stom gelaat het nie. Ons moes groot geeste soos Leonard Cohen, David Bowie, Alan Rickman en Jans Rautenbach groet en die stukke van ons lewe probeer optel ná die skokaankondiging dat die skone Angelina Jolie die aantreklike Brad Pitt uit hul liefdesnes geskop het.

JANS main

Hoe moet gewone sterflinge – met huisverbande, karpaaiemente en uitstaande e-tol-rekeninge – hul voorstedelike liefde laat gedy as die nimlikes en superrykes hul oënskynlike sprokiesromanse nie kan laat werk nie? Nietemin, in 2016 het die internasionale Brangelina-fenomeen helaas ook gesneuwel.

Another one bites the dust. . .

Inderdaad. So is die lewe, so is die lot.

En voor ek afsluit, net ’n vriendelike aanmaning aan ieder en elk van julle – vriende en familie ingesluit: Ek gaan iets oorkom as ek weer sien of hoor hoe mense mekaar troos dat 2018 beter gaan wees of hulle planne vir 2018 bespreek. Dit is nou 2016. Vriende, 2016 plus een is 2017.

Net omdat die slaagsyfer vir wiskunde volgende jaar waarskynlik na 20 persent gaan daal, is dit geen verskoning om laks te raak met basiese hoofreken nie.

En hou die goeie moed: Indien 2017 ook ’n katastrofiese jaar is, kan ons minstens tot verdere kennisgewing saam met die voormalige Eskom-baas, Brian Molefe, krokodiltrane huil en ons sorge by die Saxonwold-sjebien gaan verdrink.

Met die rasse skrede waarteen tegnologie nou vorder, behoort die ligging van dié misterieuse watergat teen 2017 op GPS-padkaarte op te duik.

Soos “hulle” tereg sê: Die hoop beskaam nie.