’n Man is vir bedrog in hegtenis geneem te danke aan ’n pastoor wat soos ’n wafferse dubbelagent die man na dié eetplek gelok het sodat die polisie hom kon vastrek.

[caption id="attachment_115507" align="alignnone" width="600"]Pastoor Johan du Toit (links in wit) help die polisie om ’n man vas te trek wat vir beweerde bedrog in hegtenis geneem is. Foto's: Jacques Myburgh Pastoor Johan du Toit (links in wit) help die polisie om ’n man vas te trek wat vir beweerde bedrog in hegtenis geneem is. Foto's: Jacques Myburgh[/caption]

Huisgenoot se Jacques Myburgh het hiervan te hore gekom en die drama eerstehands ervaar.

Vir ’n Maandagmiddag was die Reno Spur in Bellville taamlik stil. Plek-plek het manne in pakke die keel gesit en lawe met ’n nawerkse biertjie of gekapitaliseer op die “burger special”, min wetend dat speurders van Kleinvlei-polisiekantoor in die hoek van die rookgedeelte sit en die gebeure fyn dophou.

Lees ook: Seun kom tot ouers se redding ná hy rooftog oor Skype sien gebeur

Johan du Toit, ’n pastoor van Kingsway Revival Ministry, sit geklee in ’n wit moulose hemp en ’n kep wat “#SAVE” sê. Hy teug aan sy koeldrank terwyl die man met breë skouers en ’n grynslag voor hom sit.

Volgens Johan het die man glo R40 000 by ’n lid van Johan se kerk gebuit. Hy het glo belowe dat sy grond teen ’n billike prys kan koop. Die deposito hiervoor was R40 000 – en na wat verneem word het die man toe spoorloos hiermee verdwyn. Die vrou was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees ook: ’n Vreemdeling se vriendelikheid red onwetend man se lewe

“Hy het my ’n vriendskapsversoek op Facebook gestuur. Ek het vir die vrou gevra of sy die persoon ken en sy het vir my gesê dit is die swendelaar wat haar geld gevat het. Ek het met die ou op Facebook en toe later op WhatsApp begin gesels tot ek sy vertroue gewen het,” sê Johan.

Volgens “Pastoor 007” het die verdagte sy sondes teenoor hom bely. “Ek het vir hom gesê ons moet gesels oor hoe ons die probleem gaan oplos en hoe hy die geld aan die vrou gaan terugbetaal. Hy het ingestem om my in die Spur te ontmoet.” Die verdagte word glo sedert November 2015 gesoek.

“Toe ek die afspraak met hom maak, het ek die polisie laat weet. Hulle het ingestem om vir die verdagte te wag wanneer ek hom ontmoet.”

Johan en die verdagte het eers sowat 20 minute gesit en gesels toe die drie polisiemanne in die hoek nader skuif en sitplek langs hulle inneem. Die polisielede het die verdagte ondervra en ’n stel boeie uitgepluk. Die man het blykbaar besef hy is uitgevang en het hom nie teëgesit toe die polisie hom laat opstaan en sy hande boei nie.

Lees ook: Hierdie man se laaste Facebook-plasing sal jou hart breek

Hy is voor die kliënte – wat summier ophou kou het – uit die gebou gelei waarna hy na die Kleinvlei-polisiekantoor geneem is.

Volgens Johan is hy bly dat hulle uiteindelik die man kon vang. Hy het baie frustrasie en hartseer vir my gemeentelid veroorsaak.

Kapt. Florina Muller van Kleinvlei-polisiekantoor het die voorval bevestig en gesê die verdagte sal na verwagting Donderdag in die Kleinvlei-landdroshof voorkom.