[caption id="attachment_56941" align="alignnone" width="600"]Pravin Gordhan (Foto: Dino Codevilla) Pravin Gordhan (Foto: Dino Codevilla)[/caption]

Dit blyk uit inligting van drie gesaghebbende bronne met direkte en eerstehandse kennis van nasionale tesourie se binnewerkinge en van gesprekvoeringe in die private sektor rondom die voortslepende krisis rondom Gordhan.

Volgens Huisgenoot se bronne:

? Doen Gordhan sy beplanning op ’n dag-tot-dag basis en word daar nie onnodig vooruit planne neergelê nie;

? Is daar pogings van groot besighede om ANC-ringkoppe deur middel van ’n senior-partyleier te oorreed om van koers te verander; en

? Het ’n moontlike plaasvervanger vir Gordhan as finansminister reeds begin kontak maak met invloedrykes om die omgewing vir sy koms voor te berei.

Dit volg op 24 uur waarin die politieke landskap, terwyl Zuma en Gordhan in China is vir ’n G20-beraad, vinnig verander het:

? Eers het Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne – ’n politieke liggewig, maar na aan Zuma en die Gupta-familie – aangekondig die kabinet het besluit om te vra dat ’n geregtelike ondersoek na die land se vernaamste banke geloods word. Dit omdat die banke hul dienste aan die Gupta’s se maatskappy, Oakbay Investments, opgeskort het. Daar was egter later geen melding van dié besluit in ’n verklaring wat na afloop van ’n kabinetsvergadering uitgereik is nie.

? Toe kom die aankondiging dat Dudu Myeni, ’n getroue bondgenoot van Zuma en omstrede voorsitter van die SAL se direksie, gaan aanbly in haar pos. Dit ondanks die feit dat die nasionale lugredery in sy swakste finansiële posisie ooit is en hy steeds nie sy finansiële state aan die parlement kon voorlê nie.

Beide verwikkelinge dui daarop dat Zuma en die staatskapers baie sterk staan in die stryd om beheer oor die tesourie en dat intimidasie aan die orde van die dag is.

“Dis nou duidelik dat skeidslyne tussen die president, sy kabinet en die staatskapers aan die een kant en die res van ons aan die ander kant getrek word,” het ’n ingeligte met direkte toegang tot Gordhan aan Huisgenoot gesê.

“Dis Zuma versus die mense.”

Volgens die bron “hang die swaard van Damokles” pal oor die nek van Gordhan. “Beplanning (in Gordhan se kantoor) geskied op ’n dag-tot-dag basis. Hy is teoreties seker oor die naweek en tot aan die einde van die G20-beraad veilig, maar die realiteit is egter anders.”

Volgens hierdie bron is die hervormers binne die ANC op die agtervoet en sukkel hulle om vordering te maak. Dié groepering was tot onlangs toe nog besig om invloedrykes in die regerende party en die regering aankant te kry in die stryd om staatskaping te keer en om te draai. Dié pogings het ingesluit die oopvlek van korrupsie en omkopery, ’n bewusmaking van wetlike verpligtinge op senior staatsamptenare en politieke gesprekke.

Hervormers, insluitend Gordhan, probeer nou die private sektor en grootsake gebruik om die ANC van buite af te oortuig om ekonomies en polities verantwoordelik te wees.

Volgens inligting word navorsingstukke en memorandums deur Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, onder senior ANC-leiers versprei.

Hierdie dokumente word met behulp van ekonome en sakelui buite die ANC opgestel. “Die realiteit is indien ons op hierdie pad voortgaan sal ons in resessie ingaan, mense se inkomste gaan verminder, inflasie gaan styg en die rand gaan verswak. Daardie boodskap moet onemosioneel en helder by die regte mense uitkom.”

Daar is nog geen formele vergadering tussen die ANC en verteenwoordigers van grootsake belê nie, maar verskeie informele gesprekke tussen swaargewigte in die besigheidswêreld en senior ekonome met ANC-leiers vind glo deurlopend plaas.

Ingeligtes sê dis onseker of die waarskuwings wat in hierdie gesprekke gerig word inslag vind.

“Staatskapers is besig om hard terug te baklei. Dit was vir hulle baie maklik om toegang tot staatshulpbronne te kry en invloed op besluitnemers uit te oefen . . . die astrante manier waarop hulle dit reggekry het, het hulle selfvertroue gegee. Dis nou die eerste keer dat daardie mag uitgedaag word,” sê die bron.

’n Ander bron, met ’n wye netwerk onder die land se vernaamste nyweraars, het gesê ’n ANC-LP – waarvan die naam aan Huisgenoot bekend is – is besig om kontak te maak invloedrykes in die sakewêreld omdat hy glo die volgende minister van finansies is. Volgens dié bron wil die ANC-LP mense gerus stel en wil hy verhoed dat sakevertroue in die hek duik indien Gordhan uit sy poss verwyder word.

’n Tweede bron, met direkte insae in gebeure by tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê dié ANC-LP se bewegings is bekend.

? Pieter du Toit is assistentredakteur van Huisgenoot en ’n politieke joernalis.