Die vervalle huis in Detroit word tans vir R33 000 aangebied, het ’n plaaslike TV-stasie Dinsdag berig.

Die huis in die koloniale styl het drie slaapkamers en een en ’n half badkamers en is in die ooste van Detroit geleë; dit is eers vir R55 000 te koop aangebied.

Die huis is ’n slagoffer van Detroit se ekonomiese agteruitgang. Dit was op ’n tyd die middelpunt van die wêreldmotorbedryf, maar daar is nou ’n geskatte 78 000 verlate geboue.

Dit was nie lank nie voor die huiseienaar besluit het om die jongste Apple-toestel te aanvaar.

“Dit is ’n werklike aanbod,” het die eiendomsagent Larry Else aan die plaaslike TV-kanaal Fox 2 gesê. “My klant is van oorsee en het gesê hy is bereid om die huis vir ’n iPhone 6 te verruil. Dit klink asof hy die premium weergawe wil hê, maar ek is seker hy is bereid om te onderhandel.”

Die eienaar is trouens bereid om die huis vir ’n 32 GB-iPad te verruil.

Terwyl die ruilhandel soos ’n winskoop lyk, sal die nuwe eienaar R66 000 vir agterstallige belasting moet opdok.

’n iPhone 6 Plus kos tussen R8 240 en R10 440 sonder ’n kontrak en afhangend van bergingskapasiteit.

Die stad in die Amerikaanse deelstaat Michigan, wat in 2013 bankrotskap verklaar het, het tesame met die grootste drie motorvervaardigers in Amerika, General Motors, Ford en Chrysler, geleidelik agteruitgegaan, tesame met rasse-twis, ’n vlug na die voorstede, wanbestuur en korrupsie.

Detroit se bevolking het in die 50’s ’n hoogtepunt van 2 miljoen bereik, maar het nou tot onder 700 000 gedaal.