“Ek help graag, maar kan nie nou met jou praat nie; ek staan kniediep in die modder in my huis,” het Jannie Rossouw van Wolmaransstad vroegmiddag gesê toe Huisgenoot hom kontak.

[post-slider]

Jannie is een van tientalle inwoners wat groot skade gely het weens die kwaai reën wat die dorp getref het. Baie huise is reeds ontruim en mense word by vriende, in skoolsale of by kerke geakkommodeer.

“Al die geboue in die onderste deel van die dorp was ’n meter onder water,” het Stoffel Botha, ’n kontrakteur in die boubedryf gesê terwyl hy Gert Jacobs, die plaaslike apteker, modder uit sy winkel help verwyder het. Stoffel het gesê hy raam die huidige skade op R10 tot R15 miljoen.

Hy het ook gesê tussen 200 en 300 mm reën het van Sondag tot Dinsdagoggend daar geval. “En twee weke gelede het ons 100 mm gehad.”

Stoffel verduidelik die hewige reënval kom in siklusse van 10 tot 12 jaar in die gebied voor. “Dit gebeur vandat ek ’n kind is. Dis deel van ons lewe om ná ’n droë siklus ’n abnormaal goeie reënjaar te beleef.”