Teen die tyd toe hulle sowat twee jaar gelede uit die sogenaamde “gruwelhuis” in Springs gered is, was trauma deel van hul lewe.

Dié boeties en sussies is glo gereeld deur hul ma en pa mishandel en verwaarloos.

Nadat hulle van hul ouers verwyder is, het dit goed gegaan met hulle, het Huisgenoot verlede jaar berig.

Maar nou, met hul ouers wat tans in die hooggeregshof in Pretoria verhoor word, ervaar hulle die trauma weer van voor af.

Lees ook: Só lyk huis van gruwels

“Dit gaan baie goed met die kinders. Dit is maar net traumaties vir almal. Ons almal wens dit (die verhoor) wil nou net verbykom,” het die kinders se voog aan Huisgenoot gesê.

Hy wou nie meer sê nie aangesien dié voogde van die kinders en ander familie ‘n hofbevel het wat hulle belet om met die media te praat.

Nie die voog of die ouers kan identifiseer word nie, om die minderjarige kinders se identiteit te beskerm.

 

Die twee oudste kinders, wat onderskeidelik 18 en 13 jaar oud is, sal na verwagting Woensdag, 25 Mei, verder teen hul ouers getuig. Hulle sal in camera getuig, wat beteken die publiek sal nie in die hof kan sit en na hul getuienis luister nie. Die kinders sal ook in ‘n ander vertrek wees sodat hulle nie hul ouers hoef te sien terwyl hulle getuig nie.

Die kinders se pa staan tereg op 22 aanklagtes terwyl die ma van 20 aanklagtes beskuldig word. Dié aanklagte sluit onder meer in verkragting, kinderverwaarlosing, dwelmbesit en dwelmhandel, berig News24.

Die pa het op al die aanklagte teen hom onskuldig gepleit behalwe die klag wat daarmee verband hou dat hy die polisie verhinder het in die uitvoering van hul pligte toe hulle in Mei 2014 na sy seun gesoek het. Die vrou het op al die aanklagte teen haar onskuldig gepleit.

Dít wat in die sogenaamde “gruwelhuis” gebeur het, het uitgekom toe die oudste seun (nou 13) in Mei 2014 glo uit sy pa se huis geglip en na die bure gehardloop het. Hy het na bewering aan die bure se skuifdeur gehamer totdat hulle oopgemaak het.

Lees ook: Huis van gruwels – wat sou jy gedoen het?

Hy het hulle glo gesmeek om nie sy pa te bel en te sê waar hy is nie.

Op raad van ‘n familielid het die bure glo die seun se ouers laat weet waar hy is. Die seun se ma en oudste suster het glo eerste opgedaag en kort daarna sy pa. Toe sy pa daar aankom, het hy hom glo ‘n harde klap teen die kop gegee.

Terug by die huis het die pa glo die seun in die swembad gegooi en na bewering sy kop onder die water gedruk. Daarna het die pa die seun glo in ‘n kombers toegedraai en glo in ‘n buitekamer se plafon weggesteek.

Nadat die bure die volgende oggend die polisie gebel het, het die polisie na die huis gegaan en gevra waar die seun is. Die man het glo nie vir die polisie vertel hy het die seun in die dak versteek nie.

 

Vier dae ná die seun se verdwyning het die seun se ma na bewering uiteindelik met die sak patats vorendag gekom dat haar man glo die seun na familie in Warden geneem het.

Nadat die seun gevind is, is die pa in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in aanhouding.

Sy vrou (35) is ‘n maand ná hom in hegtenis geneem omdat sy glo geweier het om haar samewerking aan die polisie te gee en teen haar man te getuig. Sy is later op borgtog van R2 000 vrygelaat. Sy is ook deur die hof verbied om kontak met haar kinders te maak, omdat die twee oudstes staatsgetuies is.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Nóg ’n terugslag tref Bill Cosby tydens sy seksverhoor

5 van die koelste eksperimente wat tans op die Internasionale Ruimtestasie uitgevoer word

Kamera, ligte en aksie! Ons HG-fliek is in wording

Skoknuus in ondersoek na gedoemde EgyptAir-vlug bekend gemaak

O koek! Die ‘reëndruppelkoek’ met sy byna geen kilojoules neem die internet op horings