Die beskuldigde in die Huis van Gruwel-saak het glo sy polse in die aanhoudingselle probeer sny nadat landdros Roy le Roux borgtog geweier het.

Daar is nog geen bevestiging oor die man se toestand nie, maar volgens verskeie twiets is hy met ’n ambulans weggeneem na ’n hospitaal.

Hy word daarvan aangekla word dat hy sy vrou en vyf kinders mishandel het.

Die beskuldigde – wie se identiteit geheim gehou word om sy gesin te beskerm – het Woensdag ’n beëedigde verklaring ingedien waarin hy om borgtog pleit.

Hy het gesê hy is nie ’n vlugrisiko nie en het nie familie oorsee nie. Die saak is tot 12 Junie 2014 uitgestel om hom in staat te stel om regshulp te bekom.