Hulle is tevore daarvan aangekla dat hulle hul vyf kinders mishandel het. Die polisie is in Mei 2014 na die huis ontbied toe een van hul kinders by bure hulp gaan soek het. Die man is op 23 Mei 2014 in hegtenis geneem.

Vandag het die vrou beweer haar man het gedreig om haar en haar suster dood te skiet sodra hy uit die tronk kom, vermoedelik omdat hulle al twee ’n interdik teen hom wou aanvra.

Sy het vandag erken sy het gejok dat die polisie haar gedreig of gedwing het om saam te werk. Dit was glo ’n poging om haar man te beskerm.

Lees ook: Nóg afgryslike besonderhede oor Springs se ‘huis van gruwels’ kom aan die lig

Met verwysing na die liefdesbriewe wat haar man aan haar gestuur het, het sy beweer haar dogter het dit vir haar voorgelees omdat sy self nie kan lees of skryf nie. Dit was ook die praktyk wanneer sy iets moes skryf. Volgens ’n verslag deur dr. Pixie du Toit, ’n forensiese kriminoloog, kan sy nie lees of skryf nie en was sy tot op 17 in ’n spesiale skool. Haar man het glo graad 7 geslaag.

Die vrou beweer dat twee van die seuns probeer het om omgang met haar dogter te hê. Die voorval het na bewering tydens hul besoek aan die Vaaldam plaasgevind. Haar dogter het na bewering aan haar genoem dat een van die seuns haar onvanpas aangeraak het. Sy het weer bevestig wat sy in haar twee verklarings gesê het, naamlik dat haar man haar na bewering aangerand het wanneer sy hom seks geweier het. Die vrou het ook vandag getuig dat sy geweld in haar skoonouers se huis ervaar het. Haar skoonma het na bewering haar eie man geskiet waarna sy selfdood gepleeg het. Haar skoonpa het egter die aanval op hom oorleef. Sy het getuig dat sy en haar man in ’n motor gewoon het nadat hulle weg is van haar skoonouers se huis. Terwyl sy hieroor getuig het, het haar man begin huil met sy kop in sy hande.

Die vrou het vandag gereageer op die bewering dat haar man nie haar oudste dogter se biologiese pa is nie. Sy het beweer haar dogter het vir die hof gejok en ontken dat sy enigsins ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop het. “Ek het 24 uur van die dag met beskuldigde nommer een deurgebring,” het sy vandag gesê. Sy sou per geleentheid in Durban na bewering seks gehad het met sowel haar man se broer as sy neef. Die vrou erken dat sy vir haar man hieroor gejok het omdat sy vir hom bang is. Haar man het gehuil terwyl sy hieroor getuig het.

Vroeër

Die saak is aanvanklik verlede Donderdag uitgestel nadat die vrou glo mangelontsteking opgedoen het. Tydens haar verskyning voor die saak uitgestel is, het sy verskeie skok-onthullings gemaak.

Sy het beweer haar man het die oudste twee van die vyf kinders elke dag aangerand. Sy het ook deurgeloop wanneer sy hom probeer keer het. Sy het vertel hoe hulle gedreig is met ’n blaasvlam en ’n sambok en geskiet is met ’n windbuks.

Lees ook: Ouers in ‘huis van gruwels’ bind glo seun aan kombuiskas vas, hoor hof

Die man het boonop 37 kameras op die erf geïnstalleer om die gesin dop te hou wanneer hy nie tuis was nie.

Die paartjie pleit onskuldig op aanklagte van:

1. Poging tot moord op hul seun (13)

2. Poging tot regsverydeling

3. Vyf klagte van kindermishandeling

4. Vyf klagte van kinderverwaarlosing

5. Twee van die verbreking van die skolewet

6. Die wys van pornografiese materiaal aan hul oudste dogter (destyds nog jonger as 18 jaar)

7. Die vervaardiging en verspreiding van metamfetamien.

Die man het onskuldig gepleit op 21 aanklagte, wat die mishandeling en verkragting van sy oudste dogter insluit.