Vreugdetrane het Donderdag oor die wange van een van Bob Hewitte se slagoffers gerol nadat haar verkragter, die onteerde gewese tenniskampioen Bob Hewitt, se aansoek om sy tronkstraf te verminder in die appèlhof in Bloemfontein misluk het. Die 75-jarige Hewitt gaan nou op sy ou dag inderdaad ses jaar agter tralies moet deurbring.

“Dit is verby! Dit was ’n taai, taai vyf jaar,” het die slagoffers huilend aan Huisgenoot gesê. Sy het deurentyd gevrees dié hof gaan Hewitt as ’n vry man laat huis toe gaan.
Suellen Sheehan, wat in Johannesburg woon, en Theresa Tolken, wat in Nieu-Seeland woon, was onderskeidelik 12 en 13 toe die tennisster hulle meer as 30 jaar gelede verkrag het. Hy was destyds hul afrigter. Daar was ook ’n derde slagoffer, wat hy onsedelik aangerand het. Sy wil nie geïdentifiseer word nie. Suellen se ma, Judy, glo haar tot vandag toe nie en het selfs teen haar dogter vir Hewitt getuig.
“Weet jy, as iemand my sou vra of ek dit alles weer sou doen, sou ek ja sê . . . as ek selfs net een klein meisie kon red,” het die slagoffer gesê. Sy vertel die uitspraak is ’n uitklophou vir almal wat haar met die jare as leuenaar uitgekryt en haar vertel het hulle is seker sy het “dit geniet”.

“Die uitspraak het my menswaardigheid help herstel. Dit het vir my vryheid gebring,” sê die slagoffer.

Die Gautengse dagblad Beeld het vroeër berig Hewitt het geen berou of insig getoon in die skade wat hy sy jong verkragtingslagoffers berokken het nie. Hewitt het in die 1960’s en ’70’s as wenner van 15 Grand Slam-titels bekendheid verwerf. Regter Bert Bam het hom in Mei verlede jaar in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis tot agt jaar tronkstraf vir elk van die twee verkragtings. Bam het twee jaar van elk van die vonnisse vir twee jaar opgeskort indien Hewitt R100?000 aan die departement van justisie betaal vir veldtogte teen die verkragting van vroue en kinders.

Hy is ook tot nog twee jaar gevonnis op aanklagte van onsedelike aanranding van ’n derde meisie, wat nie geïdentifiseer wil word nie. Sy het kleintyd tennisafrigting by hom gekry.

Al die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Hy is dus tot effektief ses jaar agter tralies opgelê.

Hewitt, wat ’n sitrusplaas in die Oos-Kaap bedryf, het in die appèlhof aangevoer sy gesondheid is nie goed nie; vandaar sy appèl.

So het Suellen Sheehan destyds ekslusief tydens ’n onderhoud met ons susterstydskrif, YOU, oor Bob Hewitt en haar liefde vir hom gesels:

Die dag toe sy in Desember 2011 die aanklag van verkragting teen haar gewese tennisheld gaan lê het, was YOU weer daar om die oomblik op video vas te lê.

Ook op Huisgenoot.com

Bob Hewitt erken aanmerkings oor verkragting

Regter beslis in Bob Hewitt-verkragtingsaak

Dit gons vandag landwyd in die howe met drie hoëprofielsake