Hugh Jackman sal hom so nooit as te nimmer kan vervies omdat hy as sekssimbool beskou word nie.

Die ruwe aantreklikheid en humorsin van hierdie vleispaleis van 'n akteur lei daartoe dat hy talle vroulike bewonderaars het. Ongelukkig het sy vrou, Deborra-Lee Furness, hom reeds opgeraap, maar die ekstra aandag pla hom nie juis nie.

"O nee, dit is geensins lastig nie,” het hy teenoor die tydskrif Psychologies gegrinnik.

"Ek gee glad nie om nie. Maar ek dink as mense my regtig geken het, sou hulle geweet het dat die een ding waarvoor ek graag onthou sal wil word, is dat ek die liefdevolste en sorgsaamste pa en eggenoot is. Ek werk baie hard, maar alles wat ek doen is om te sorg dat Deb en die kleingoed die beste moontlike lewe geniet."

Hugh, 46, is baie aktief op Instagram, waar hy sy werklike persoonlikheid met sy bewonderaars kan deel. Hy is bekend vir die grappige video’s wat hy oplaai en hy het onlangs 'n greep opgeneem waar hy Jim Carrey se karakter in The Mask naboots.

Maar is daar enige skadukant verbonde aan die titel van Hollywood se 'resident Good Guy'?

"Ek het nog altyd waarde geheg aan die opvatting van 'n heer te wees en om mense met respek te behandel," redeneer hy. "My vader is 'n baie fatsoenlike Engelsman en hy het my die waarde van respek en ridderlikheid, asook 'n sin vir humor, geleer. Ek vind dit soveel aangenamer om te probeer om die goedhartiger sy van my persoonlikheid te omarm."

Hugh het bygevoeg dat daar soms tye kom wanneer hy wel sy humeur verloor, maar nooit met Deborra en die kinders nie, en dat hy ná die tyd “verskriklik ongelukkig” voel.

© Cover Media