[caption id="attachment_164030" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die aktrise en haar man, die akteur Hugh Jackman, die ster van Logan, is die ouers van twee aangenome kinders, Ava, 11, en Oscar, 16. Sy is ’n voorstander van aanneming en medestigter van die organisasie Hopeland, wat die wêreldwye kwessie van wees- en weggooikinders aanpak.

Die 61-jarige aktrise het tydens ’n onderhoud met MamaMia gepraat oor die stigma oor die proses om weerlose kinders te help, waarmee Australiese egpare wat graag kinders wil aanneem, te doen kry.

“Ek dink daar bestaan steeds vreeslik baie onkunde oor aanneming. Ek het self mense teëgekom wat oningeligte en onsensitiewe dinge in verband met aanneming kwytraak,” het sy aan die ouerskapwebtuiste vertel.

“Aanneming word in sommige lande op kulturele vlak vermy, en ek dink wel daar bestaan nog ’n gevoel van skaamte.” Maar sy glo mense kan leer om anders daaroor te dink.

Die aannemingsaktivis is ook ’n stigterslid van die Nasionale Aannemingsbewusmakingsweek in haar geboorteland, Australië.

Sy het voornemende ouers aangemoedig om te praat en druk uit te oefen op parlementslede om die stelsel te verander wat, soos sy nadruklik sê, te veel kinders “laat grootword sonder ’n permanente, liefdevolle gesin om hulle deur hul vroeë lewensjare en tot in volwassenheid te steun”.

Australiërs wat omgee vir weerlose kinders, en veral dié wat graag kinders wil aanneem, moet hul stem laat hoor en reguit praat. “Deur reguit te praat, pleit jy dat ’n kind ’n tuiste kry,” het sy benadruk.

Die ma van twee het ook gesê sy het hoop vir die toekoms en die “moedige politici” geprys wat voorbrand doen vir ’n beter stelsel.

Deborra-Lee is verlede Saterdag deur Cate Blanchett, haar vriendin en ’n Oscarwenner, met ’n prys vir leierskap van die VN se Vroue vir Vrede-genootskap vereer.

Die seremonie was verlede week by ONE UN in New York, ten tyde van vanjaar se Maart-noenmaal van die VN se Vroue vir Vrede-genootskap.

© Cover Media