Die Hollywood-ster (47) is sedert 1996 met Deborra-Lee (60) getroud en hy het, met die 20ste herdenking van hul huwelik om die draai, onthul hul verhouding is sterker as ooit tevore.

Hugh kon op The Ellen DeGeneres Show nie uitgepraat raak oor sy ander helfte nie.

“Sy is die beste ding wat nog met my gebeur het, en dit raak net beter en beter,” het hy gesê aan Ellen DeGeneres (58), die aanbieder van die geselsprogram.

Lees ook: David Beckham oor sy kinders se afspraakreëls

“Ek is regtig dankbaar dat ek haar ontmoet het voor enigiets nog soort van gebeur het, want ons het my hele loopbaan – voor en agter die skerms – saam aangepak.”

Hugh, wat tans sy nuwe rolprent, Eddie the Eagle, bemark, het vertel hoe hy Deborra-Lee in 1995 op die stel van die televisieprogram Corelli ontmoet het. Die twee is die jaar daarna getroud.

Hugh verklap hy was aanvanklik skrikkerig vir die blondine en het haar geïgnoreer – en so byna enige kans op ’n moontlike romantiese verhouding verbeur.

“Ek het haar by my eerste werk ontmoet,” het hy glimlaggend vertel. “Sy was die ster. Ek was verlief op haar, maar skaam daaroor. Ek het ongeveer ’n week lank glad nie met haar gepraat nie.

“Toe ek besef ek vermy haar, het ek begin dink dis simpel. Toe nooi ek haar en so 10 ander mense vir aandete. En toe vra sy: ‘Wat gaan aan, het ek jou kwaadgemaak? Jy praat nie meer met my nie. Wat het ek verkeerd gedoen?’ Teen daardie tyd het ek al ’n paar drankies ingehad en sê toe: ‘Kyk, ek is verlief op jou. Dit sal oorwaai.’”

Lees ook: Angelina Jolie gesels oor haar kroos

Deborra-Lee bieg toe sy is ook op hom verlief. Hulle het begin uitgaan en kort voor lank was hulle ernstig oor mekaar.

Die egpaar vier op 20 April hul 20ste huweliksherdenking en het twee kinders, Oscar (15) en Ava (10).

Tydens sy verskyning op die televisieprogram het Hugh ook vertel hy het Oscar ’n afspraak help maak deur sy handtekening aan te bied aan tieners van wie Oscar hou. “Maak ek nou voorspraak vir my seun? Dit is erg ongewoon,” het Hugh gelag.

© Cover Media