Hugh Jackman het vir sy aanhangers gesê hy is vir velkanker behandel nadat hy ’n merk aan sy neus gesien het.

Die ster van The Wolverine het ’n foto van sy verbinde neus op Instagram geplaas en aan sy aanhangers verduidelik hy het onlangs velkanker van sy gesig laat verwyder.

Die 45-jarige het onthul sy vrou, Deborra-Lee Furness, het hom aangemoedig om die “merk” aan sy neus te laat ondersoek.

Hy het geskryf: “Man, was sy reg! Ek het basale-selkarsinoom gehad.

“Moet asseblief nie so onverskillig soos ek wees nie. Laat jou ondersoek. En GEBRUIK sonskerm!!!”

Aanhangers het die akteur ’n spoedige herstel toegewens. Een het vertel: “Ek het al twee melanome laat verwyder en moes my limfnodusse laat ondersoek om seker te maak dit het nie versprei nie. Dis vreesaanjaend!! Ek dink aan jou!”

Nog ’n ondersteuende aanhanger het laat hoor: “Dankie tog jy het dit gou opgespoor.”

Volgens die Amerikaanse velkankerstigting word basale-selkarsinoom jaarliks by sowat 2,8 miljoen Amerikaners gediagnoseer. Dis die algemeenste soort kanker.

Die behandeling behels onder meer die verwydering van die gewas, bestraling of plaaslike medisyne.

Hugh en die regisseur James Mangold, wat vanjaar aan die stuur van The Wolverine was, onderhandel nou met Twentieth Century Fox oor nog ’n aflewering in die superheldreeks.