’n Mediastorm het om die babadoekhandelsmerk Huggies losgebars nadat ’n ma opgemerk het dit lyk baie of ’n kleuter se bene op ’n foto in een van hul advertensies gedokter is.

“Is dit net ek wat dink ’n gaping is vir hierdie Huggies-advertensie tussen ’n kleuter se bobene geskep?” het sy op Reddit gevra.

Die mense wat op haar stelling kommentaar gelewer het, se menings het verskil.

“Ja. Dit lyk gedokter,” het ’n gebruiker gesê. “Hoe grillerig om ’n baba se lyf te verander! Ai, die afkrakery begin al so vroeg.”

“My kleuter (22 maande) het ’n ‘bobeengaping’,” het ’n ander een laat hoor. “Hy is klein en het ook ongelooflike dun ‘hoenderbeentjies’ en sal waarskynlik so lyk as hy sy knieë bymekaarhou.”

Huggies het ontken die baba se foto is gedokter wat vir die Amerikaanse veldtog vir Huggies Little Movers Slip-On Diapers gebruik is. Die doekvervaardiger het aan MailOnline gesê: “Ons gebruik altyd regte klante en gebruikers van ons produkte en verander nie die lyf van die babas in ons advertensies en foto’s nie”.

Bronne: nypost.com, gawker.com, dailymail.co.uk