Dié blitsige skrumskakel is een van rugby se laventelhane en sy Brooklyn-huis, wat nou vir ’n koel R5,2 miljoen in die mark is, is net so modieus soos sy klerekas.

Die spiertier het op Facebook aangekondig hy wil sy woning op die Brooklyn Bridge-landgoed in Pretoria verkoop en dat net mense wat ernstig belangstel in die eiendom (wat 495 vierkante meter beslaan) hom moet kontak.

Die huis is oorkant die advokatekamers in Brooklyn en binne stapafstand van die plaaslike winkelsentrum. ’n Veiligheidswag is dag en nag aan diens by die landgoed se ingang.

Die vensters wat van die vloer tot by die dak strek, vul die huis volgens Francois met natuurlike lig en die oopplanleefareas het ondervloerverhitting.

Voornemende kopers sal ook kan opgewonde raak oor die keurig ingerigte kombuis, eetkamerarea, swembad, patio en drie slaapkamers, wat elk hul eie badkamer het. ’n Aparte gastekamer het ook sy eie ingang.

Sjoe, Hougie, ons is beïndruk met jou gesofistikeerde smaak!