Tommy Arthur (75) het dit oor die jare reggekry om sy doodsvonnis sewe keer uitgestel te kry. G’n wonder hy is al die “Houdini van die dodesel” gedoop nie.

Maar Vrydagoggend het sy geluk uitgeloop toe hy in die Holman-gevangenis in Atmore, Alabama, met ’n dodelike gifmengsel ingespuit is.

Selfs tot ’n dag voor die teregstelling het sy regspan bly spook om sy vonnis weer met ’n hofbevel uitgestel te kry. Die Katolieke non suster Helen Prejean, ’n bekende plaaslike stryder vir die afskaffing van die doodsvonnis, het Donderdagaand nog op Twitter aangevoer dat DNS-getuienis Arthur se skuld of onskuld sou kon bewys.


Verlede week nog het ’n optimistiese Arthur op die telefoon aan NBC-nuus gesê hy vertrou sy prokureurs sal ’n manier kry om hom aan die lewe te hou.

Maar hy was verkeerd.


Met al die verskillende vertragingstaktieke van hom en sy regspan, het Arthur 34 jaar in die dodesel deurgebring nadat hy in 1983 die doodsvonnis opgelê is vir die moord die vorige jaar op Troy Wicker.

In daardie stadium was Arthur reeds uit op parool nadat hy ’n vonnis uitgedien het weens die skietdood van sy skoonsuster, maar hy het volgehou dit was ’n ongeluk.

Arthur het Wicker se vrou, Judy, ontmoet en die twee het ’n verhouding begin. Arthur het toe besluit om van Wicker ontslae te raak en hom vermoor.


Ná die misdaad het Judy eers aan die polisie voorgehou sy is deur ’n oortreder verkrag, waarna die verkragter haar man geskiet het. Maar sy het later haar storie verander en beken dat sy en Arthur saamgesweer het om Wicker te vermoor.

Onder die vertragingstaktieke wat Arthur se regspan gebruik het, is om elke keer vir ’n herondersoek te vra aangesien hulle oor nuwe getuienis sou beskik.

In al hierdie jare is Arthur drie keer deur drie verskillende howe verhoor – en elke keer skuldig bevind.

Die Houdini van die dodesel se laaste woorde Vrydagoggend was ’n verskoning aan sy kinders dat hy hulle as pa in die steek gelaat het. Hy het hulle ook van sy liefde vir hulle verseker.


Bronne: NBC News, Mirror, CNN, LA Times