Hoe sleg is dit regtig?

Tweedehandse rook kan kinders se risiko vir asma, longsiektes, breinvliesontsteking, verkoue en middeloorontsteking vergroot.

In ’n onlangse studie wat in die Europese Hartjoernaal verskyn het, is bevind dat kinders wat aan tweedehandse rook blootgestel word, onherstelbare skade aan hul bloedvate opdoen. Dié skade vergroot hul risiko vir hartaanvalle of beroertes wanneer hulle volwassenes is.

Volgens ’n studie in die Nicotine and Tabacco Reasearh-joernaal is kinders veral vatbaar vir die risiko’s van tweedehandse rook omdat hulle vinniger asemhaal en meer gifstowwe inneem omdat hulle liggaam kleiner is. Boonop is kinders wie se ouers rokers is se kanse om self te begin rook hoër as kinders wie se ouers nierokers is.

Daar is ook in die studie bevind dat die konsentrasie rookpartikels 11 keer so hoog in ’n toe motor is as in ’n kroeg waar mense mag rook. En dit help ook nie juis as jy jou motor se ruit afdraai nie: Die rook waai eenvoudig weer in die motor in en bly dikwels ure daar hang, selfs al kan jy dit nie sien nie.

Wat sê die wet?

Dis juis dié tipe navorsing wat daartoe gelei het dat Brittanje onlangs ’n wetsontwerp in die parlement aangehoor het wat mense wil verbied om in motors te rook waar daar kinders is.

’n Soortgelyke wet is reeds van toepassing in die VSA, Kanada en Australië. In Suid-Afrika is dit al sedert 2008 onwettig om in ’n motor te rook as daar ’n kind onder 12 saam met jou in die kar is.

Wat dink SA ouers?

Ons het die ouers op ons Facebook-groep SuperMa gevra of hulle dink dit is ’n probleem wanneer ouers in motors rook wanneer kinders saamry, en hulle almal is dit eens: Beslis!

Maar moenie moed verloor nie, jy kan dié gewoonte klop en in die proses jou en jou kind se gesondheid ’n hupstoot gee.

Hier is ’n paar wenke:

  • Sluit jou sigarette in jou motor se kattebak toe.
  • Kry iemand om jou verantwoordbaar te hou – jy kan selfs jou kinders vra.
  • Moet nooit in ’n vertrek rook waar jou kinders by jou is of waar hulle gereeld speel nie.

Amanda Saayman stel voor jy maak ’n speletjie daarvan. “Sê vir jou kinders ‘Ek gaan nie meer naby julle rook nie, soos in die kar of binne die huis nie, maar as julle my vang, skuld ek julle ’n melkskommel.’ ”

Hier’s hulp

As jy sommer heeltemal jou rookgewoonte wil staak, gaan klop by dié plekke aan vir hulp:

  • CANSA se eKick Butt-program
  • Die Nasionale Raad teen Rook se QUIT-hulplyn: 011-720 3145
  • Allen Carr Suid-Afrika: 0861 100 200 of allencarr.co.za

- Shané Barnard

Ekstra bronne: Medical News Today, Health24, Reuters, News24