Beplan jy om hierdie vakansie ver te reis? 

“Gedurende die vakansietyd is die paaie besonder gevaarlik en moet motoriste ekstra voorsorg tref. Dit word daarom aanbeveel dat jy jou voertuig minstens twee weke voor jy vertrek na ’n geregistreerde werkswinkel neem vir ’n gevorderde inspeksie,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

“So ’n toets sal moontlike defekte identifiseer en verdere skade voorkom.”

• Goed soos verslyte laerringe, ’n beskadigde stuurarm, ’n verroeste montering of ’n los skakel kan, indien dit nie herstel word nie, enigiets van ongerief tot ’n ernstige ongeluk veroorsaak.

• Sou jy dalk enige ongewone klanke of vibrasies van die enjin, stuurkolom, ratkas, wiele, remme of enige ander stelsel opmerk, is dit veral noodsaaklik om dit deur ’n gekwalifiseerde en hoogs aangeskrewe tegnikus te laat nagaan.

• Enige oneweredige slytasie of ongewone geluide of vibrasies vanuit die remstelsel moet ook ondersoek en herstel word.

• Indien jou voertuig se ritgehalte harder as gewoonlik is, die voertuig baie rol wanneer jy ’n draai binnegaan of ’n groter afstand nodig het om te stop, moet verslyte of beskadigde veringskomponente soos skokbrekers of stutte moontlik vervang word.

“Dit sal help om te verseker dat jy probleme op die vakansiepad vermy en dat jy lekker kan ontspan met die wete dat jou voertuig op sy beste en veiligste funksioneer,” verduidelik Elmarie.

motorligte

Hou gereeld ’n oog oor jou voertuig

Al het jou voertuig sy inspeksie met vlieënde vaandels voor die vakansie geslaag, beteken dit nie jy hoef nou nie meer ’n ogie oor jou voertuig te hou tydens die vakansie nie.

Onthou die volgende punte:

• Maak gereeld seker alle gloeilampe werk, veral as jy saans ry.

• Wanneer jy vir brandstof stilhou, laat die petroljoggie elke keer die banddruk kontroleer en seker maak alle enjinvloeistowwe is tot op die voorgeskrewe vlak gevul. Dit sluit in water vir die verkoelingstelsel, enjinolie en remvloeistof.

• Voor jy van die vulstasie vertrek, maak seker alle olie-, water- en brandstofproppe is deeglik vas.

driehoek

’n Weerkaatsende driehoek in die bagasiebak is ’n moet

Hoe gemaak as jou voertuig in die donker langs die pad onklaar raak en jy nie aankomende verkeer kan waarsku nie? Talle noodlottige ongelukke gebeur wanneer ’n voertuig teen ’n stilstaande voertuig bots.

Maak seker daar is ’n weerkaatsende driehoek, en sommer ’n flits ook, in jou bagasiebak. Dikwels dink motoriste hulle kan in so ’n situasie net op hul voertuig se noodligte staatmaak, maar wat gebeur as die ligte as gevolg van ’n battery- of elektriese fout nie werk nie?

lanpad

Hoe lyk jou bande?

• Gaan die loopvlak van jou bande na. Die Suid-Afrikaanse wetlike minimum is 1 mm-loopvlak, maar enigiets minder as 3 mm beperk die band se vermoë om doeltreffend te funksioneer.

• Maak seker die bande loop eweredig af. Oneweredige afloop van bande kan dui op ’n verslyte stuur- of veringskomponent, ’n oor- of onderopgeblase band of swak wielbalansering.

• Sien toe dat jou voertuig met ’n noodwiel toegerus is wat in ’n goeie toestand is en dat jy die regte domkrag en ander gereedskap het om ’n beskadigde wiel of pap band te vervang.

Algemene wenke

• Moenie jou voertuig oorlaai nie.

• Maak seker jy het voldoende motorversekering en ’n padhulpdienspakket gereed.

• Maak ’n lys van alle moontlike steun- en noodnommers ingeval iets onvoorsiens langs die pad gebeur.