Om die KKNK of Aardklop by te woon is dalk iets wat nie almal beskore is nie. Maar te danke aan RSG kan almal hierdie week ’n kunstefees “bywoon” waar hulle hul ook al bevind.

Van 26 tot 29 November saai dié radiostasie ’n volwaardige kunstefeesprogam uit, ’n eerste vir radio in Suid-Afrika. Daar is gesprekke met kunstenaars, musiekteater, radiodramas en vele meer. Ook die kleinspan kan naderskuif, want daar word elke aand ’n splinternuwe Liewe Heksie-storie vertel deur die “ma” van Liewe Heksie, Verna Vels, self!

“Met hierdie kunstefees wil RSG wys dat enigiets met radio moontlik is en dat radio steeds die teater van die verbeelding kan wees,” sê Magdaleen Kruger, RSG se bestuurder.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur van drama, sê luisteraars kan die room van die Afrikaanse kunste heeltemal gratis beleef. “Die feesprogram bevat heelwat verrassings én verskeidenheid. En ook ’n paar aanbiedings wat opspraak sal verwek.

“Hopelik sal dit Suid-Afrikaners se belewenis van ’n kunstefees na nuwe hoogtes voer en ’n jaarlikse instelling word.”

Suzaan Hauman