[caption id="attachment_120870" align="alignnone" width="600"]Kry Potch 'n nuwe fees? Foto: Google maps, chrjp Kry Potch 'n nuwe fees? Foto: Google maps, chrjp[/caption]

’n Groep Aardklop-belanghebbendes het Dinsdag vergader oor die haalbaarheid om die jaarlikse fees vanjaar te laat voortgaan. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep en woordvoerder van die groep belanghebbendes, sê die belangrikste aspek is om voldoende borge te kry. As dit gebeur, sal die fees tussen 4 en 9 Oktober aangebied word. Hoewel hulle sal probeer om die naam te behou, is dit nog nie ’n uitgemaakte saak nie.

Die groep bestaan uit verteenwoordigers van die Potchefstroom Sakekamer, die Potchefstroom-stadsraad, gemeenskapsleiers op die dorp, die Noordwes-Universiteit, stigters- en ander borge en medewerkers van die Aardklop-kunstefees.

Die groep het ontstaan ná die onlangse aankondiging deur die Aardklop-direksie dat die Aardklop Nasionale Kunstefees met onmiddellike effek gestaak word en dus nie vanjaar aangebied word nie.

Lees ook: Vrae oor die einde van Aardklop

Japie sê hulle was bekommerd dat alle aspekte van die besluit om dit nie aan te bied nie, nie in ag geneem is nie, veral die invloed daarvan op Potchefstroom se ekonomie.

“Dit sal ’n groot leemte laat in die platform vir drama, klassieke musiek en ander kunsvorms in die noorde van Suid-Afrika, ’n platform wat oor ’n tydperk van 18 jaar deur Aardklop ingestel is,” sê hy.

Indien die fees aangebied word, is dit waarskynlik ’n gegewe dat dit sal terugskuif na die feesterrein by Die Bult, waar Aardklop in die beginjare aangebied is.

Japie sê hulle is optimisties dat voldoende borge die fees vanjaar nog moontlik sal maak. Die groep sal probeer om beloftes oor die volgende weke met borge te bevestig.

Lees ook: ‘Daai oomblik as jy sien Ashton Kutcher deel jou neef se video op Facebook’

“Ons is beïndruk met die geesdrif van baie instansies, sakeondernemings en gemeenskapsleiers op Potchefstroom. Die dorp se jaarlikse ekonomiese inspuiting danksy die fees beloop tussen en R60 miljoen en R80 miljoen.”

Hy sê hulle sal so gou moontlik duidelikheid oor moontlike borge verkry en ’n finale besluit neem oor of die fees vanjaar aangebied sal word.

– Jana Smit

Ander stories op Huisgenoot.com

Eksklusief: Angelique Gerber vertel hoe sy vriendinne gevra het om haar bruidsmeisies te wees

‘Boeremeisie’ Minki van der Westhuizen kry Britse burgerskap

Meghan Trainor: Ek verstaan nie die hele ‘groot lippe’-neiging nie

Van Mej. Reëndruppel na Mej. SA: Ons gesels met Ntandoyenkosi Kunene, haar ouers

Kyk hoe ‘grênd’ is Getroud met Rugby se nuwe stel

Kyk net Mamma se liefling! Bekendes deel kostelike kiekies van hul oulike spruite