Moenie dat die magdom wagwoorde wat jy elke dag op die internet moet gebruik, jou dwing om swak wagwoorde te kies nie. Vermy hierdie lys en sorg dat jy nie ’n slagoffer van aanlyn bedrog word nie.

Die reeks syfers “123456” is amptelik die swakste wagwoord wat jy op die internet kan gebruik. Dié wagwoord het pas “password” verbygesteek as die algemeenste wagwoord onder internetgebruikers, volgens ’n aanlyn sekerheidsfirma.

SplashData, was sy jaarlikse Swakste Wagwoorde-lys bekendgemaak het, sê dit is die eerste keer dat “password” die topplek moes afstaan.

Die derde swakste wagwoord is “12345678”, terwyl “qwerty” en  “abc123” onderskeidelik die vierde en vyfde plek beklee. Sedert verlede jaar het “iloveyou” twee plekke opgeskuif tot in die negende plek.

’n Groot inbraak op die sekuriteit van Adobe-sagteware het die wydverspreide gebruik van swak wagwoorde aan die lig gebring, veral met produkte soos Adobe Photoshop.

“Ons het vir die eerste keer wagwoorde soos ‘adobe123’ en ‘photoshop’ op die lys gesien; dis ’n goeie herinnering dat jy nie jou wagwoord moet grond op die naam van die webtuiste of toepassings wat jy gebruik nie,” sê die hoof uitvoerende beampte van SplashData, Morgan Slain.

Nes ander wagwoordkenners, moedig SplashData internetgebruikers aan om wagwoord-frases, naamlik ’n groep lukrake woorde, nommers en karakters, te gebruik Dis maklik om te onthou, maar moeilik vir kuberkrakers om te ontsyfer. – Sapa

Hou jou wagwoorde veilig

Om al jou wagwoorde te onthou kan dalk in ’n nagmerrie ontaard. Keeper is ’n app waarmee jy net een wagwoord moet onthou. Met dié app kan jy al jou wagwoorde op een plek bêre en dit met jou hoofwagwoord beveilig.

Jy hoef jou ook nie te bekommer dat jou persoonlike inligting deur die app bekom kan word nie. Aktiveer eenvoudig die “selfvernietiging”-opsie wat outomaties al jou data sal uitvee wanneer jy vyf keer onsuksesvol probeer aanteken.

Dié app het ook ’n ingeboude wagwoordskepper wat voorstelle kan doen wanneer jy nie aan ’n nuwe wagwoord kan dink nie.

Keeper is gratis beskikbaar in die iTunes App Store en op Google Play.

– Kirstin Buick