Suna was op 14 Januarie in Linden, Johannesburg, toe die voorval gebeur. Sy het winkels toe gegaan en was besig om in haar motor te klim toe dit voel asof iemand haar in die gesig slaan, vertel sy.

“Ek het gedink ek word deur ’n grypdief aangeval,” sê Suna.

’n Paar dae later het haar gesig begin opswel. Toe sy Maandag dokter toe gaan, het hulle vasgestel daar is twee koeëltjies in haar gesig. Die dokter het toe vir Suna gesê sy is geskiet.

“Gister was ek en die ondersoekbeampte weer op die toneel om vas te stel of daar videomateriaal was,” het Suna gesê.

Die hoofondersoekbeampte in haar saak het aan haar gesê die modus operandi van die aanval is nie soortgelyk aan dié van ’n kaper of sakkeroller nie.

Suna sê sy glo die skieter het namens iemand hoër op in die SAUK opgetree.

“Oor die mens (skieter) self, dink ek dit is sy beroep. My wrewel strek ’n bietjie hoër.”

Sy sê hierdie soort dinge gebeur met haar omdat sy ’n sagte teiken is, maar voeg by daar is agt joernaliste wat saam optree.

“Mense moet ook die impak besef wat dit op die ander het.”

Suna sê die agt het geen planne om hul hofsaak teen die SAUK in die konstitusionele hof te laat vaar nie.

Die groep, waarna in die vrye omgang as die SAUK-8 verwys word, is verlede jaar afgedank nadat hulle beswaar aangeteken het teen die voormalige SAUK-hoof Hlaudi Motsoeneng se beleid om nie gewelddadige protesaksies op televisie te vertoon nie.

Die DA-LP Mike Waters het gesê die voorval het plaasgevind enkele ure nadat Suna en die ander sewe joernaliste hul getuienis op skrif aan die komitee gestuur het wat die SAUK-8 ondersoek. Hy beskou die voorval as ’n duidelike geval van intimidasie.

Bykomende bron: News24