Die 39-jarige man se benarde situasie om die gewas te laat verwyder voor dit lewensgevaarlik raak as dit sy lugweg blokkeer, is dalk binnekort iets van die verlede danksy ’n uitstorting van goedheid en liefde van personeel by die Laeveld Privaat Hospitaal in Nelspruit asook die publiek.

“Dis wonderlik om te sien hoe almal hul hart en beursie oopgemaak het om Sipho te help,” sê Lisa Volbrecht, skakelbeampte by die hospitaal, waar ’n span dokters hul dienste gratis aangebied het om die gewas te verwyder.

Dokters het voorspel die gewas sal waarskynlik binne ’n jaar Sipho se lugweg blokkeer, maar Rob Ferreira (die openbare hospitaal in Nelspruit) kon hom nie help met die operasie nie en hy is op ’n sewe jaar lange waglys by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geplaas.

Die lewe was moeilik en eensaam vir Sipho, wat sy werk as sekuriteitswag verloor het toe sy werkgewer gevoel het sy gewas is te onooglik en dat hy eers kon terugkeer nadat die gewas verwyder is.

Sipho en sy vrou, Lindiwe, moes hoofsaaklik steun op haar inkomste as supermark-werker. Behalwe die pyn en ongemak wat hy verduur wanneer hy probeer eet en drink, het inwoners hom ook verwerp en staar hulle na en lag vir sy ken.

tumour1

Lisa sê dis moeilik om met Sipho te kommunikeer, maar hy is baie dankbaar en opgewonde oor die rekonstruktiewe chirurgie. Dr. Pieter Scheepers, ’n maksilla-gesigchirurg, sal die operasie van sewe uur verniet uitvoer sodra al die geld vir Sipho se rehabilitasie daar is.

“Dis die laaste hekkie tussen Sipho en ’n normale, gesonde lewe,” sê Lisa. Sy sê hoewel die hospitaal die operasieteater, toerusting en personeel teen geen koste beskikbaarstel, kort hulle steeds geld vir die medikasie wat Sipho ná die operasie sal nodig hê.

Teen gistermiddag het barmhartige hospitaalwerkers en lede van die publiek reeds R35 000 geskenk en Lisa was oorweldig deur die reaksie. “Ek het nog nie vandag die saldo bekyk nie, maar enige ekstra geld wat geskenk word bo en behalwe die R50 000 wat ons makeer, sal vir Sipho se rehabilitasie ná die operasie gebruik word.”