Só sê 'n jarelange vriend en deeltydse kollega, Dennis Lloyd, aan Huisgenoot. Mariandra en Johann het drie dogtertjies en sy is tans swanger met hul eerste seun.

Dennis sê Mariandra het hom vertel sy het Saterdagoggend rondom half drie wakker geword in hul huis op hul kleinhoewe noordoos van Pretoria toe sy iets gehoor het wat klink soos 'n plankvloer wat kraak. Dis toe dat sy twee mans aan die voetenent van hul dubbelbed bed sien staan.

"Die mans het gesê hulle soek geld," vertel Dennis van daardie noodlottige aand in die Heunis-woning. Maar nog voor Mariandra of Johann kon reageer, skiet die een rower Johann.

"Een van die dogtertjies kom toe by die kamer ingehardloop en sê sy het geld en verwys na haar spaarbussie," vertel Dennis verder. "Die volgende oomblik het een van die rowers op die dogtertjie geskiet. Sy het uit die kamer gehardloop en is wonderbaarlik nie getref nie.

Die mans het daarna gevlug. Toe Mariandra by haar man kom, was hy reeds dood. "Dis toe dat sy besef sy moet aan die kinders dink. Hulle is in die donker daar uit," sê Dennis.

Die rowers het hul selfone gebuit, so Mariandra is na 'n nabygeleë vulstasie. Daar het sy besef sy ken niemand se nommer uit haar kop nie, behalwe die van 'n jarelande vriendin. Haar vriendin het toe die polisie in kennis gestel.

Dennis sê 'n groep vriende help met alles moontlik. Een reël die begrafnis terwyl 'n ander na die kinders se behoeftes omsien.

Johann se lewe is Maandagmiddag tydens 'n piekniek langs 'n rivier in die omgewing gevier. "Mariandra voel sy het Johann nie behoorlik gegroet nie. Sy het 'n dringende behoefte om afskeid te neem."

"Vanaand gaan ek saam met die kinders handjieverf doen. Ons gaan ook hul pappa se naskeermiddel op hul kussings spuit, om hulle so te help," sê Dennis.

Volgens Dennis is die ergste vir Mariandra dat sy nie meer vir Johann "voel" nie. "Toe haar pa oorlede is, het sy hom heeltyd naby haar gevoel," vertel Dennis. So toe sy sê sy ervaar nie dieselfde sensasie met Johann nie, het Dennis sy hande op haar swanger magie gesit en gesê: "Voel hom."

Johann was glo baie opgewonde oor sy baba se koms. "Toe hulle swanger raak, was Mariandra bekommerd of hulle finansieel na nog 'n kind sal kan omsien, maar Johann het net gesê die Here sal voorsien."

Reëlings vir Mariandra se bevalling is reeds met die Universitas-hospitaal getref. En omdat Johann die broodwinner was, gaan begrafnisgangers gevra word om eerder geskenkbewyse vir kruideniersware as blomme aan die gesin te stuur.

As ambag het Johann kabinette gemaak en vir homself gewerk. Volgens Dennis het die paartjie al voorheen alles verloor, maar dat Mariandra dan bloot sou sê sy het steeds haar sielsgenoot.