Dink jou in: Jy is agt maande swanger. Terwyl jy in jou studeerkamer staan, is ’n skurk besig om jou voordeur af te breek.

[caption id="attachment_163204" align="alignnone" width="600"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

Jy weet hy is daar, want oomblikke vantevore het jy nog in die loop van sy vuurwapen vasgekyk. Wat maak jy?

Wel, ’n vrou van Acornstraat, Faerie Glen, in die ooste van Pretoria het nie twee keer gedink nie toe sy, met die hulp van haar tuinwerker, oor ’n hoë muur spring. Babamagie en al.

“Haar arms was blou van die val, maar op die een of ander wonderbaarlike manier het haar baba niks oorgekom nie,” sê kapt. Ilze Jones, polisiewoordvoerder.

Volgens Ilze het dié vrou verlede week in haar studeerkamer sit en werk toe sy ’n onbekende man in haar erf gewaar. Dit is nie duidelik hoe hy ingekom het nie.

“Toe sy die man sien, het sy nog vir hom geskree: ‘Hei, wat maak jy!’

“Sy het opgestaan en na haar voordeur gegaan. Toe sy die deur oopmaak, toe staan die man daar en rig ’n wapen op haar,” vertel Ilze.

“Op die een of ander manier kon sy voordeur toekry. Sy het na haar studeerkamer gegaan, dié vertrek se deur toegemaak en haar tuinwerker geroep.

“Terwyl die skelm besig was om die voordeur oop te forseer, het die tuinwerker die vrou gehelp om by ’n ander deur van die huis uit te kom. Die werker het haar toe gehelp om oor die muur te klim. Sy het aan die ander kant van die muur in haar buurman se erf te lande gekom.

“Die vrou het haar selfoon by haar gehad en die polisie en haar familie gebel.

“Hulle twee (sy en die tuinwerker) het daar sit en weggekruip tot hulle die polisie gehoor het.

“Toe hulle omstap na haar huis, het hulle gesien die man het met ’n TV-stel weggekom.”

Die skurk is steeds op vrye voet. ’n Saak van huisroof word ondersoek.