’n Hoogswanger vrou het haar eerste baba enkele dae voor hy gebore sou word, verloor toe ’n sportnutsvoertuig haar by ’n motorwassery getref het.

[caption id="attachment_134104" align="alignnone" width="600"]Corné en Belinda wagtend op hul kleinding. Foto: Facebook via ILovPix Corné en Belinda wagtend op hul kleinding. Foto: Facebook via ILovPix[/caption]

Belinda Louw (35) is raakgery en ernstig beseer by ’n onderneming waarheen sy haar motor geneem het om gewas te word.

Pretoria Moot Rekord berig Belinda het op ’n stoel gesit toe een van die motorwassers in ’n voertuig bo-oor haar gery het. Na wat berig is, het ’n Toyota Fortuner haar getref.

Belinda se verloofde, Corné Hitge, het Saterdag 13 Augustus op sy Facebookblad geskryf: “Laat my seun saggies by U se voete rus en asb. Heer, help my skapie deur hierdie tyd. Amen.”

Thabo Thomas, bestuurder van City Wheels Auction House in Pretoria, waar Corné ’n verkoopsman is, sê Belinda en Corné is albei in ’n “helse toestand”.

[caption id="attachment_134105" align="alignnone" width="600"]Piepklein skoentjies wat die paartjie se baba sou inwag. Foto: Facebook via ILovPix Piepklein skoentjies wat die paartjie se baba sou inwag. Foto: Facebook via ILovPix[/caption]

“Die kleintjie sou Vrydag gekom het. Dit moes ’n vreugdevolle week gewees het.”

Thabo sê hulle bel Corné gereeld, maar wil ook nie kort-kort bel nie. “Ons ondersteun hom en stuur SMS’e.”

Thabo sê Belinda het baie seergekry. Sy het onder meer haar gewrig, ses ribbe en haar bekkenbeen gebreek, ’n laserasie op haar pankreas gehad; haar een long en haar niere het seergekry.

Volgens hom is sy nog nie buite gevaar nie. Hy sê Belinda is Maandagoggend weer geopereer.

“Dit is bo en behalwe hulle hartseer ’n uitmergelende tyd.”

Belinda het teen Maandagmiddag nog nie geweet sy het die baba verloor nie.

Op Donderdag 14 Julie vra iemand op Facebook wanneer die groot dag is wanneer “daardie oukie (sic)” arriveer. Corné antwoord, “tussen 19 en 26 Augustus.”

[caption id="attachment_134106" align="alignnone" width="600"]Belinda en Corné tydens 'n swangerskapfotosessie. Foto: Facebook via ILovPix Belinda en Corné tydens 'n swangerskapfotosessie. Foto: Facebook via ILovPix[/caption]

In ’n vroeëre fotosessie van ’n hoogswanger Belinda in ’n denim en grys hemp wat haar maag wys, hou sy en Corné ’n hartvormige swartbordjie vas, waarop geskryf staan “Amper hier 2016”. Belinda straal op die foto’s en Corné is duidelik in sy skik.

In van die foto’s lê Belinda op haar rug net haar hande beskermend om haar maag gevou. Op een foto staan twee piepklein babaskoentjies op haar maag met Corné in die agtergrond.

Ekstra bron: Pretoria Moot Rekord; Foto's: ILovPix