Die swanger sangeres Ciara is “dankbaar vir God se genade” nadat sy onlangs ongedeerd van ’n motorongeluk afgekom het.

[caption id="attachment_163494" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die 31-jarige sangeres het Vrydag ’n wit Mercedes-nutsvoertuig in Wilshire-boulevard in Los Angeles bestuur toe ’n Volvo-nutsvoertuig teen die passassierskant van haar voertuig bots terwyl sy links gedraai het.

Die hoogswanger Ciara het ná die voorval op die toneel geloop en op haar foon gepraat terwyl dit gelyk het asof sy haar bors en skouer seergemaak het, het ooggetuies aan TMZ vertel.

Die sangeres het ná die voorval op Twitter haar liggaam bedank wat haar baba veilig gehou het. “Dankie vir God se genade en amniotiese vloeistof,” het sy Vrydag geskryf.

’n Verteenwoordiger vir die sangeres het aan Entertainment Tonight gesê dit gaan goed met Ciara en haar ongebore baba. “Die bestuurder was onwettig in die busbaan en het die regterkant van haar motor getref.”

Die voorval het om 11:48 Vrydag gebeur en die brandweerafdeling van Los Angeles het bevestig dat een van hul waens op die toneel was en dat niemand hospitaal toe geneem is nie.

’n Polisieman het gesê die ongeluk het “net eiendomskade” veroorsaak.

Ciara se man, Russell Wilson, het hom glo na die toneel gehaas om sy vrou te troos en het later op Twitter geskryf: “Mamma Wilson en baba Wilson voel goed! God is goed!”

Die sangeres skenk binnekort die lewe. Sy het ’n tweejarige seun, Future Zahir, by haar eks, die rapper Future.

© Cover Media