Die tema? ’n Afrika-safari natuurlik! Sy is immers ’n Suid-Afrikaner in murg en been. Die blonde skoonheid (27) het al vroeër vanjaar onthul sy verwag ’n seun. Maar nou weet ons eindelik wat haar en haar verloofde, die Brasiliaanse model Hermann Nicoli (34), se knapie gaan heet – en dit danksy kiekies van die ooievaarstee wat op die sosiale netwerk Instagram gedeel is.

Sy naam gaan Anacã wees!
Die ooievaarstee was duidelik ook ’n prettige affêre, met diere net waar jy kyk. Dit het kompleet soos ’n dieretuin gelyk! Die tweelaagkoek is met diere versier en daar was selfs sagte dierespeelgoed, waaronder ’n kameelperd, leeu en apie.
Candice en Hermann is al sedert sy 17 is ’n paartjie. Hulle het in Augustus verlede jaar verloof geraak. Candice is in die wolke oor haar swangerskap en deel gereeld kiekies van haar boep. By een smeulende Instagram-kiekie van haar in haar Evasgewaad, wat geneem is toe sy vyf maande swanger was, skryf sy: “As jy ’n probleem het met foto’s van swanger vroue, voel vry om my nie meer te volg nie eerder as om my te gaan rapporteer. Dankie.”

Die kleinding word glo in Oktober gebore. Ons kan nie wag om klein Anacã te sien nie. Ons wonder of sy ma hom Afrikaans gaan leer!

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, INSTAGRAM