Amanda Hess, ’n ginekoloog, was onselfsugtig genoeg om die geboorte van haar eie kind op die lange baan te skuif sodat sy vir Leah Johnson kon help met die geboorte van haar kind.

Amanda het tussen haar eie geboortepyne deur gehoor ’n paar verpleegsters gesels oor ’n vrou wat dadelik moes kraam, want haar ongebore baba was in nood. 

Die dokter wat veronderstel was om Leah se vierde kind te verlos, was uit vir ete en op pad terug na die Frankfort Regional Medical Center in Kentucky in die VSA.  Maar Leah was reeds ten volle ontsluit.

Amanda, wat reeds haar pasiëntjurk aangehad het en gereed was om te kraam, het besef sy moes die pasiënt help voordat dinge vererger.

“Dokters dink altyd aan hul pasiënte, selfs al is hulle self ’n pasiënt,” sê Amanda.

Toe sy besef daar is nie tyd te verspil nie, het Amanda haar lyf vinnig met nog ’n jurk bedek, stewels aangepluk en tot Leah se redding gekom.

“Ek het net nog ’n jurk aangetrek om my rug te bedek en stewels aangetrek sodat daar nie iets op my spat nie,” vertel sy.

Amanda se verbasing was groot toe sy die pasiënt herken – sy het Leah ’n paar dae vantevore ondersoek. 

Sy het Leah gehelp om haar dogtertjie in die wêreld te bring en kort daarna die lewe geskenk aan haar eie dogtertjie, Ella Joyce.

Die dapper dokter is nou agt maande met kraamverlof, wat sy beslis verdien ná haar onselfsugtige optrede!
 
Bronne: Mirror, New York Post, News Hub