Die hooggeregshof in Johannesburg het beslis dat hy onmiddellik as beoordelaar van Idols SA heraangestel word.

Die uitsaaier M-Net sal ook sy regskostes moet dek.
Die beslissing kom net betyds vir die Idols-oudisies wat môre in Durban afskop en volg ná ’n wydberigte hofsaak met Gareth wat die uitsaaier M-Net hof toe gesleep het nadat hulle hom afgedank het toe hy sy mening oor die Penny Sparrow-rasdebakel op sosiale media gelug het. Advokaat Wim Trengove het namens M-Net ogetree en gesê die uitsaaier het binne hul regte opgetree toe hul Gareth afgedank het omdat sy opmerking hom soos ’n “ondersteuner van rassisme” laat lyk het.
Die uitsaaier het ook aangevoer dis onregverdig om te verwag dat hulle iemand aanstel wie se openbare beeld die handelsmerk skade berokken.

Die mediapersoonlikheid se regspan, onder leiding van Dali Mpofu, het gevra dat die afdanking omgekeer word omdat daar geen manier is om te bepaal of die publiek Gareth as ’n rassis beskou nie.