Gavin Juliette het die Jack Russell genaamd Betty Boop onder sy Audi A4 se enjinkap gekry toe hy ’n geblaf uit die motor hoor kom nadat hy sy skoonma in Manchester in die noordweste van Engeland gaan oplaai het.

Die hondjie, wat aan Gavin se buurvrou Gary Rose behoort, het op ’n plastiekrak in die enjin geklim en het toe tussen die pypwerk vasgesit.

Gavin, wat saam met sy vrou en seun op Betty afgekom het, sê: “Met ons terugkeer het ons ’n gekef gehoor. Toe druk ek my oor teen die enjinkap. Ek het dit oopgemaak en die outjie het my aangestaar. Ek kon dit nie glo nie.

“Ek verstaan steeds nie hoe sy kon oorleef het met die hitte daarbinne en die draaiende waaier nie.”

Gavin het vinnig die hond se eienaar gaan haal en dié het hom die enjin help uitmekaarhaal en die vasgekeerde hond bevry.