’n Emosionele Cherene de Wet is na aan trane terwyl sy dink aan verskillende maniere om haar hond, Lulu, op te spoor. Die Malteser-Yorkie-kruis word nou al meer as vyf dae vermis.

[caption id="attachment_115010" align="alignnone" width="599"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die drama het verlede Donderdag begin toe Cherene die 18 maande oue Lulu na die hondesalon in Johannesburg vir ’n was-en-knip geneem het. Dit was niks ongewoons nie omdat sy al jare lank ’n kliënt daar is.

Maar toe haar man Lulu wou gaan oplaai en met ’n ander Malteser terugkeer, het sy paniekbevange geraak en is reguit hondesalon toe om haar hond terug te kry.

“Hulle het besef hulle het ons honde omgeruil. My hond is na ’n ander vrou se huis en hulle het vir my die verkeerde hond gegee,” het Cherene aan News24 vertel.

“Die vrou wat my hond het, het nie haar naam in die boek geskryf nie; daarom is daar nou nie ’n manier om haar te kontak nie.”

Lewensgevaarlike toestand

Wat Cherene ook bekommerd maak, is dat Lulu met ’n lewensgevaarlike lewerprobleem sukkel.

“Sy moet spesiale kos eet omdat sy so siek word. Haar lewerprobleem is dodelik. Ons probeer die vrou in die hande kry. Ek het dit op Facebook geplaas en elke manier moontlik probeer om dit in die media te kry. Dalk lees die vrou dit en besef sy’t ons hond.”

Cherene sê die eienaars van die hondesalon het vir haar gesê die vrou het haar hond kom haal en Lulu, wat toe gereed was om opgetel te word, is per ongeluk aan haar oorhandig.

Lees ook: Hond se glimlag maak hom oornag ’n internetsensasie

Die eienaar van die hondesalon, Anka Anteglievic, sê sy onthou ’n vrou het Donderdagoggend haastig ’n hond kom aflaai en is vinnig daar uit voor hulle haar besonderhede kon neerskryf. “Sy was haastig en het nie ’n nommer of enigiets gelos nie. Sy’t gesê sy’s haastig en weggery.”

Toe sy die fout agterkom, het Anka en haar dogter Lana vir Cherene probeer help om die vrou op te spoor. Anka sê die vrou se hond het steke op die maag gehad en moes by ’n veearts uitkom.

“Die vrou met die verkeerde hond moet binnekort haar hond veearts toe vat om die steke te laat verwyder.”

Hoopvol

Hulle was verbaas dat die vrou ná soveel dae nog nie agtergekom het sy het die verkeerde hond en teruggekeer het na die hondesalon nie.

“Ek verstaan dit nie. Ons het Vrydag vir haar gewag en gedink sy’s dalk by die werk, maar niks het gebeur nie. Ek kan nie glo dat sy sedert Donderdag nog nie besef het sy’t die verkeerde hond nie, veral met die steke wat verwyder moet word.”

Lees ook: Kat in apiepak neem internet op horings

Anka en Cherene hoop albei die vrou bly nie te ver weg van die hondesalon in Bedfordview nie. “Sy kan nie te ver weg wees nie; sy moet hier iewers wees,” het Anka gesê.

Alle kliënte wat hul honde op 7 Januarie na die Lucky Dogs-hondesalon geneem het, word gevra om die onderneming so gou moontlik te kontak.

Bron: News24