Shungu die sebra, wie se naam “guts” of “gees” beteken in die plaaslike Shonataal, het nog sy naelstring gehad toe hy verlede maand wreed aangeval is deur twee jong hingste in Selous, Sentraal-Zimbabwe.

Volgens Simon Herring, die gasvryheidsbestuurder by die Pamuzinda Safari Lodge het hulle sy nek gebyt, hom omtrent 2 m hoog in die lug gegooi en hom in die oog geskop, duidelik met die bedoeling om hom dood te maak. Verkenners by die lodge het die vul gered en hom teruggevat waar Eli, ’n pointer-kruis van 22 maande, onverwags besluit het dat die vul sy verantwoordelikheid is.

Simon sê Eli het Shungu se wonde gelek, by hom geslaap en hom drie weke lank nie alleen gelos nie. “’n Ander bokser het belanggestel in Shungu en het probeer om naby hom te kom,” het Simon aan News24 gesê. “Maar Shungu het nie van die bokser gehou nie en Eli het hom weggehou.” Eli se eienaar, Kylie Kloppers sê dat die hond nog nooit sulke moederlike instinkte getoon het nie. Simon glo dat Shungu te jonk was sodat sy ma nie “tyd gehad het om hom te skuif” van die trop nie. Dit beteken dat daar ’n risiko was vir die hingste om te probeer oorneem. Wanneer ’n hings ’n trop sebras oorneem, sal hy dikwels vulletjies doodmaak in ’n poging om uitheemse gene te verwyder en die mededinging om merries te beperk. In hierdie geval het twee hingste saamgewerk. Die resultaat vir Shungu was amper noodlottig.

‘Eli het uiterste kommer gewys’

“Die hingste het hom in die nek gebyt,” het Simon gesê. “Hulle het hom baie seergemaak en daar is absoluut geen twyfel dat hulle hom probeer doodmaak het nie.”

“Toe Shungu ingebring is, kon hy nie staan nie, en Eli het onmiddellik by hom gaan lê,” het hy bygevoeg. “Eli het vir ander honde gegrom en het die uiterste besorgdheid getoon wanneer mense Shungu genader of aan hom geraak het.

Simon sê dat die eerste 48 uur na Shungu se redding kritiek was. “Ons het hom ’n 40-persent-kans op oorlewing gegee, hoofsaaklik omdat hy kopbeserings opgedoen het. Toe hy ná twee dae kon staan, het ons hom 70 persent gegee. Eers toe sy kop ná omtrent ’n week ophou hang, was ons seker dat hy sou oorleef, op voorwaarde dat ons ontsteking sou kon voorkom. Hy was op ’n sterk antibiotikum,” het hy gesê.

Shungu is nou omtrent twee maande oud en het amper heeltemal herstel. Hy bly in die lodge se stalle en drink afgeroomde melk gemeng met glukose.

Maar wanneer hy en Eli saam is, is hulle “ou pelle”, het Simon gesê.

News24