[caption id="attachment_57232" align="aligncenter" width="300"]Hector het 83kg geweeg voordat hy 30 persent van sy liggaamsgewig afgeskud het. Foto: petslimmer.co.za Hector het 83kg geweeg voordat hy 30 persent van sy liggaamsgewig afgeskud het. Foto: petslimmer.co.za[/caption]

Hector die rottweiler was nie beïndruk toe sy eienaar hom op ’n dieet sit nie, maar sewe maande en ’n verstommende 25 kg later is hy ’n heel ander hond. Boonop het dié prestasie hom die eerste plek besorg in Hill’s se kompetisie vir troeteldierverslanker van die jaar.

[caption id="attachment_57233" align="aligncenter" width="600"]Só lyk Hector nou Só lyk Hector nou. Foto: petslimmer.co.za[/caption]

Hector se eienaar, Fanie van Schalkwyk, erken sy hond was “bederf en lui” voor hy met sy eetplan begin het. Maar nadat sy gewig van 83 kg na 58 kg verminder het, het die vierjarige ’n gedaanteverwisseling ondergaan.

“Hy is nou aktief,” sê Fanie. “Hy kan nou self in die motor spring terwyl hy voorheen nie eens in die motor kon kom nie. Ek moes hom optel. Hy is nou vol lewe.”

Ná ’n veeartsbesoek in Maart het Fanie besef dis tyd vir daadwerklike optrede. Maar wat het Hector se dieet behels?

“Ons is aangeraai om hom spesifieke eettye te gee en hy is net twee keer per dag gevoer. Ons is aangesê om die kos weg te neem as hy ná ’n uur nog nie geëet het nie, want dit beteken hy is nie honger nie,” verduidelik Fanie.

As wenner van die Hill’s-troeteldierverslankerkompetisie stap Hector met ’n kontantprys van R5 000 weg. Dis ’n bewys dat elke hond sy dag kry . . .

Bronne:  www.petslimmer.co.za, Sapa, www.iol.co.za

Foto's: www.petslimmer.co.za