’n Onbekende man saam met twee Tibettaanse boerboele ná hulle op ’n "luukse troeteldierkermis" in China verkoop is.

’n Eiendomsontwikkelaar het Dinsdag soveel opgedok vir die eenjarige boerboel met goudkleurige pels by ’n “luukse troeteldierkermis” in die oostelike provinsie Zhejiang, het die Qianjiang Evening News berig.

“Hulle het leeubloed en is topgehalte-boerboele,” het die hond se teler, Zhang Gengyun, aan die koerant gesê en bygevoeg dat nog ’n hond met ’n rooi pels vir R10 miljoen verkoop is.

Tibettaanse boerboele is groot en soms kwaai honde met ronde maanhare wat hulle soos leeus laat lyk. Hulle het ’n gesogte statussimbool onder China se rykes geword, wat die prys die hoogte laat inskiet het.

Die hond is 80 cm lank en het 90 kg geweeg, het Zhang gesê. Hy het ook gesê hy was hartseer om die diere te verkoop. Die honde se naam is nie in die berig bekendgemaak nie.  “Opregte Tibettaanse boerboele is baie skaars, nes ons nasionaal gewaardeerde pandas; daarom is die prys so hoog,” het hy gesê.

’n Boerboel met ’n rooi pels, berig Big Splash, is glo in 2011 vir R16 miljoen verkoop – dit was destyds die duurste wat vir ’n hond betaal is.

Die koper by die Zhejiang-kermis was glo ’n 56-jarige eiendomsontwikkelaar van Qingdao wat hoop om self met die honde te teel, het die verslag gelui.

Die koerant het die eienaar van ’n webtuiste oor boerboel-telery aangehaal, wat gesê het dat ’n dier verlede jaar by ’n kermis in Beijing vir sowat R46 miljoen verkoop is. Maar ’n kenner in die bedryf, met die van Xu, het aan die koerant gesê die hoë pryse is dalk weens ’n ooreenkoms onder telers om hul honde se waarde ’n hupstoot te gee.

“Baie van die hemelhoë pryse is telers wat mekaar opjaag en geen geld verwissel eintlik van hande nie,” sê Xu.  Eienaars sê die boerboele, afstammelinge van honde wat nomadiese stamme in sentraal-Asië en Tibet vir jagdoeleindes gebruik het, is uiters lojaal en beskermend.

– Sapa