Carmen het ernstige beserings opgedoen ná ’n brand Donderdag uitgebreek het in die kelder van die huis waar sy en haar eienaar, Ben Ledford, in Cincinnati in die Amerikaanse deelstaat Ohio, gewoon het.

Toe die brandweer by die huis opdaag, het hulle vir Carmen gekry waar sy tevergeefs probeer het om Ben se gesig van die vlamme en rook te beskerm.

Ongelukkig het Ben later vanweë rookinaseming gesterf.

Carmen is na ’n dierehospitaal gehaas met ernstige longskade en is dadelik op ’n ventilator geplaas.

Sy sukkel om asem te haal, en ’n veearts by die hospitaal, dr. Daniel Carey, sê dit is onwaarskynlik dat Carmen binnekort op haar eie sal kan asemhaal.

“Onder die omstandighede doen sy goed, veral as mens in ag neem waardeur sy is,” het Daniel bygevoeg.

Buiten haar asemhalingsprobleme is Carmen besig om goed te herstel. Sy reageer en is nie aggresief nie.

Intussen treur Ben se familie en vriende oor sy dood, maar ontferm hul tog oor Carmen en haar lot. ’n Fondsinsameling is reeds van stapel gestuur om te verseker dat sy die beste moontlike sorg kry solank sy dit nodig het.

Bronne: CNN.COM; WCPO.COM