En dié miniatuur-schnauzer het seker aangevoel daar is fout toe haar eienaar ’n operasie moes ondergaan, want sy het ’n ongelooflike 20 blokke gestap om haar in die hospitaalsaal op te spoor.


World News Videos | ABC World News

Nancy Franck was besig om van haar operasie te herstel toe Sissy in die saal opdaag. Niemand kan uitpluis hoe die hond haar weg soontoe gevind het nie, maar die onverwagte besoek het dadelik vir ’n glimlag op haar eienaar se gesig gesorg.

“Dit was wonderlik om haar te sien,” het Nancy aan ’n TV-stasie gesê. “Dit was die volmaakte oomblik. Ek is bly sy’t daaraan gedink. Ek weet nie hoe sy die regte deur gevind of alles op haar eie gedoen het nie.”

Nancy se man, Dale, het hom heeldag lank bekommer nadat die hond van hul huis in Cedar Rapids verdwyn het. “Sy het nog nooit tevore weggehardloop nie,” het hy gesê.

Die paartjie woon sowat 20 blokke weg van die Mercy-mediese sentrum saam met Sissy en hul ander miniatuur-schnauzer, Barney. Nancy was vir sowat twee weke in die hospitaal toe Sissy daar aanland.

Die familie het nog nooit tevore vir Sissy na die hospitaal geneem nie, en daar is geen verduideliking vir hoe sy presies geweet het waar haar eienaar was nie.

Bronne: NY Daily News, ABC News