Dis elke diereliefhebber se grootste nagmerrie – om met jou siek troeteldier veearts toe te jaag, net om te hoor niks kan vir hom gedoen word nie.

Dit was verlede week Kim Edward se ervaring toe haar gemmerkat, Rory, rottegif ingekry het. Sy het met hom na die naaste veearts in Tauranga, Nieu-Seeland, gejaag. Arme Rory het van pyn gekerm en kon nie beweeg nie.

Rory se enigste kans op oorlewing was ’n bloedoortapping, maar daar was geen tyd om sy bloed vir sy bloedgroep te laat toets nie.

Die veearts, Kate Heller, het besluit om ’n kans te waag en ’n hond se bloed te gebruik om Rory te red. As dit die verkeerde bloedgroep was, kon hy gevrek het. Kate het nog nooit tevore hierdie buitengewone operasie uitgevoer nie.

“As ons dit nie gedoen het nie, sou hy gevrek het, dus het ons niks gehad om te verloor deur dit te probeer nie,” sê Kate.

Kim het haar vriendin Michelle Whitmore gebel, wat haar swart labrador, Macy, as ’n skenker aangebied het. En dit het gewerk!

“Rory is weer sy ou self,” sê Kim gelukkig. “Die veeartse het hulself oortref en dis ongelooflik dat dit gewerk het. En net vir die rekord, ons het nie ’n kat wat blaf of die koerant gaan haal nie!”

Deur KIRSTIN BUICK

Bron: ABC Online, Daily Mail