Op die Wearable Device-tegnologie-uitstalling in Tokio het die Anicall-korporasie, ’n Japannese maatskappy, Woensdag ’n nuwe toestelletjie en slimfoon-app bekendgestel wat ’n mens kan help om jou troeteldier se gemoedstoestand te meet.

Die toestelletjie word om die nek gedra soos ’n halsband en kan jou troeteldier se pols en temperatuur meet. Wanneer Wagter nou so hyg tydens jul stappie, sal jy byvoorbeeld weet of hy enige oomblik gaan omkap en of hy net aansit.

Die app kan ook bepaal hoe gelukkig jou troeteldier is deur slimfoonfoto’s van jou troeteldier te ontleed deur byvoorbeeld mates van die bek en ore te neem.

Die maatskappy sê die toestelletjies behoort later vanjaar op die rakke te wees en is grootliks vir katte en honde bestem. Die Engelse naam en prys moet nog vasgestel word, het ’n Anicall-werknemer aan Japan Real Time vertel.

Bronne: Wall Street Journal, Japan Real Time