hondmain

Inwoners van St. Georges naby Wells Estate in Port Elizabeth vertel hulle het "twee dae lank ’n gehuil gehoor" en besluit om vir Arnold Slabberts van Wildline, ’n organisasie wat onder meer in die rehabilitasie van wilde diere spesialiseer, te kontak.

Arnold en sy span is in die nabygeleë bosse in waar hulle die honde opgespoor het. Die een hond, ’n wyfie, was in ’n valstik vasgevang. Haar hondevriend, ’n reun, het aan haar sy gewaak en nie eers vir homself gaan kos of water soek nie.

Toe hulle die strik van die wyfie se poot afhaal, het albei honde dadelik weggehardloop. Die span het hulle geagtervolg tot by ’n nabygeleë werf, vermoedelik dié van hul eienaar.

Albei honde was erg ontwater en baie honger en het gulsig geëet en gedrink.

Die vermoede bestaan dat die strik deur inwoners gestel was om klein wilde diere te vang. Beverly Rademeyer, ’n inspekteur van ’n organisasie gekant teen die wrede behandeling van diere, het gesê dis onwettig vir inwoners om sulke strikke te stel.

"Skuldiges kan boetes opgelê word of selfs tronkstraf ontvang.”

Volgens berigte gaan die eienaars van die betrokke honde ook gevra word om die diere aan die organisasie te oorhandig.