Die hond, ’n sesjarige Shiba Inu, het die beer van sowat 1 m lank aangevat nadat dié die seuntjie aangeval het toe hy langs ’n rivier saam met sy oupagrootjie gaan stap.

Die hond het “buitengewoon hard” geblaf en die dier weggejaag tydens die voorval Saterdagaand in Odate, sowat 550 km noord van Tokio, het ’n plaaslike polisiewoordvoerder gesê. “Die seun het ligte kneusplekke opgedoen en is hospitaal toe geneem, maar dieselfde dag ontslaan.”

Die kind se 80-jarige oupagrootjie, wat tydens die voorval net ’n kort entjie weg van hom was, het alarm gemaak. Die plaaslike media het die hond geïdentifiseer as ’n sesjarige wyfie genaamd Mego, wat oulik beteken.

“Mego is gewoonlik baie rustig. Dit was ’n groot verrassing vir ons dat sy ’n beer weggejaag het,” het die hond se eienaar aan die koerant Sports Hochi gesê. “Mego was nog altyd sy maat en ons het haar beloon met vleis en ander bederfies.

Sports Hochi het berig die seun se klere was geskeur en sy rug en boude was oortrek van krapmerke waar die beer hom beetgekry het. Oosterse swart bere is inheems tot groot dele van Japan, insluitend die hoofeiland, Japan, en bruin bere kom in Hokkaido in die noorde voor.