’n Amerikaanse veghond-kruis genaamd Buddy was Vrydag amper verkeerdelik van kant gemaak nadat daar gedink is hy het ’n seun in Moama in Nieu-Suid-Wallis, Australië, gebyt. Maar dit was nie die volle verhaal nie.

Die “gebyt” was toe al die tyd Buddy se reddingspoging om die negejarige seun uit ’n rivier te trek.

Die kind se ma wou hom glo in die Murray-rivier probeer verdrink deur sy kop onder die water te hou. Dit het na bewering ten aanskoue van sy histeriese vyfjarige boetie gebeur. Metro berig die polisie het gesê die veghond-kruis “het ter verdediging van die negejarige seun opgetree” en dat hy nou met sy eienaars herenig sal word. Luidens berigte was dit op die oomblik dat Buddy ingegryp het en die seun se ma aangeval het. Die seun het wel geringe beserings opgedoen, maar danksy Buddy se optrede is die 27-jarige vrou se moordplanne gedeeltelik verydel. Die vrou, wie se identiteit weerhou word om die kinders te beskerm, het ongelukkig ná die onderonsie met Buddy glo wel daarin geslaag om haar vyfjarige seuntjie te verdrink.

Die vyfjarige se lyk is weldra in die Murray-rivier gevind.

Volgens News.com.au het die polisie aanvanklik gedink die negejarige het hom losgewoel uit sy ma se greep en teen die riveroewer opgehardloop waar ’n hond hom “wreed aangeval” het.

Die Murray River Council het Buddy aangehou terwyl ’n ondersoek na die tragiese voorval geloods is. Intussen het Buddy se eienaars ’n petisie opgestel om hul heldhaftige troeteldier se lewe te red.

“Buddy het probeer om die seuns te red en tydens die reddingsproses het hy die oudste seun raakgebyt. Hy kon ongelukkig nie die jongste seun ook red nie,” het hulle in hul petisie gesê.

“Buddy is deel van ons gesin en het sy lewe lank tussen kinders grootgeword. Hy is die saggeaardste hond. Dis duidelik ddat hy gesien het die kind verkeer in nood en hom probeer help het.”

Gelukkig vir die gesin het die owerhede saamgestem. “Die polisie in Nieu-Suid-Wallis het intussen laat weet dat die hond reageer het onder uiterste omstandighede en dat dit moontlik is dat die hond opgetree het om die negejarige seuntjie te help. Hy is daarna gehospitaliseer,” het Margot Stork van die Murray River Council gesê. “Die polisie het aan die raad gesê dat hulle nie sal vra dat die hond van kant gemaak word nie. Ons het sedert die voorval vir die hond ’n mikroskyfie aangebring en werk saam met die hond se eienaar om hom te registreer en om die geskikte toestande te bewerkstellig sodat die hond kan terugkeer huis toe.” Daar is berig dat die vrou al jare lank met ’n tikverslawing sukkel en dat sy op borgtog was ten tye van die voorval. Sy het haarself by die polisiestasie gaan oorgee. Sy het glo kort voor dit aan haar vriende gesê dat sy haar "babas moet verdrink."

Die saak is Maandagoggend kortliks in die Deniliquin plaaslike hof aangehoor, hetThe Western Australian berig, waar sy van moord en poging tot moord aangekla is.

  Gladys Berejiklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, het gesê owerhede sal dringend die omstandighede van die familie bekyk en seker maak daar is ’n “geskikte optrede”. Sy het gesê daar sal ’n deeglike ondersoek wees na die “menslike tragedie”.

Buddy se eienaar het in ’n bywerking op hul GoPetition-blad geskryf: “Ek wil net vir almal sê ons Buddy kom huis toe. Daar is nog ’n paar dingetjies wat gedoen moet word voor hy huis toe kom, maar die belangrikste is dat hy huis toe kom. Deel dit asseblief. Ons kan julle nie genoeg bedank vir al die ondersteuning met die deel van ons boodskappe en om geld vir hom in te samel nie. Baie dankie aan almal.”

Bronne: News.com.au, Metro.co.uk, The Western Australian