Zeus het ’n ontploffing by sy eienaar, Kerry Leech, se huis op die Engelse dorpie Goldthorpe en R33 000 se skade veroorsaak nadat hy ’n blikkie reukweerder stukkend gekou het.

Die ses maande oue saloeki-windhond-kruising het deur die blikkie gekou langs die huis se warmwatertenk. Toe die sentrale verwarming ’n paar minute later aangeskakel is, het ’n vonk die gas laat ontvlam en die ontploffing veroorsaak. Dit het ’n rusbank laat brand, die vloerplanke gebreek en die huis se dubbel-geglasuurde vensters laat versplinter.

“Hy is net ’n klein hondjie en sal op die oomblik enigiets kou,” het Kerry oor Zeus gesê. “Ons het gedink iemand het iets deur die briewebus gedruk of dat daar ’n gasontploffing was.”

Kerry was nie tuis tydens die voorval nie en gelukkig het Zeus en haar vyf ander troeteldiere ongedeerd daarvan afgekom.

BRONNE: BangShowbiz en Daily Mail