'n Hartgebroke hond, wie se eienaar sowat twee maande gelede skielik gesterf het, mis haar so baie dat hy gereeld kerkdienste bywoon by die Italiaanse kerkie waar haar begrafnisdiens gehou is.

Tommy, die sewejarige Duitse herdershond, het aan Maria Margherita Lochi (57) behoort en haar getrou agtervolg waar sy ookal sou gaan, nadat sy hom op ‘n dag verwese in ‘n veld naby haar huis gevind het.

Tommy het elke dag saam met Maria na die Santa Maria Assunta-kerk in San Donaci gegaan waar die priester hom toegelaat het om op die vloer onder die kerkbankie te lê tydens die diens.

Sedert Maria se dood kom Tommy egter nog sonder ophou na die kerkdienste in die hoop dat sy eienaar sal terugkeer, het die Mail Online berig.

Volgens die priester, Donato Panna, is Tommy klokslag by die kerk as die diens begin en woon hy die verrigtinge by sonder om enige ontwrigting te veroorsaak.

“Hy gedra hom goed. Hy maak nie eers ‘n geluid nie. Ons laat hom toe om in te kom aangesien hy niemand pla nie en aangesien niemand nog ooit oor hom gekla het nie. Dit is duidelik dat hy baie getrou aan sy eienaar was,” het Panna gesê.

Klik hier om meer te lees.