’n Mens kan soveel uitrig met hierdie klein, veelsydige, vlieënde tegnologiese wonderwerke – video’s is een van die hoogtepunte – maar in die algemeen put net die hommeltuigoperateur en dié se vriende genot daaruit.

Vir ander mense is hommeltuie ’n bron van irritasie, want hulle beskou dié toestelle as lawaaierige lasposte. Om van die veiligheidsrisiko’s nie eens te praat nie, veral nie as amateurs die beheerkontroles in die hande kry nie.

Lees ook: Hommeltuigkamera neem vuurwerkvertoning af

Bygesê, nie alle hommeltuigoperateurs is amateurs nie.

Dié situasie het die Nederlandse polisie aangespoor om hulp in te roep – in die vorm van arende. Dié ondersteuningspan in die lug is nie net vrees- en geruisloos nie, hulle is ook dodelik doeltreffend.

Die dienste van Guard from Above, wat arende leer om hommeltuie as prooi te beskou, gee die uitdrukking “met arendsoë dophou” beslis nuwe betekenis!

Sjoerd Hoogendoorn van die maatskappy sê ’n arend se kloue is sterk genoeg om die meeste amateurhommeltuie tot stilstand te bring sonder dat die lemme die roofvoël kan beseer.

Mark Wiebe, innovasiebestuurder van die nasionale polisiekorps in Nederland, sê arende sal benut word in die gebiede waar hommeltuie verbied is.

“Daar was ’n geval waar ’n lugambulans probeer land het, maar dit was onmoontlik omdat iemand daar met ’n hommeltuig doenig was. Hommeltuie kan ook byvoorbeeld ’n gevaar inhou sou dit neerstort terwyl iemand beeldmateriaal neem van ’n skare by ’n byeenkoms.”

Lees ook: Enrique Iglesias amper vingers kwyt tydens konsert

Tog is die kombinasie van arende en tegnologie nie ’n nuutjie nie. Die groep Freedom Eagles rus afgerigte arende toe met liggewig-hoë-tegnologiekameras om beeldmateriaal van byeenkomste vanuit die lug te neem.

Kitsfeite oor arende

  • Daar is meer as 60 verskillende spesies.
  • Hul retina het ’n miljoen ligsensitiewe selle per vierkante millimeter. Dit is vyf keer meer as die 200 000 van ’n mens.
  • Mense sien net drie basiese kleure; arende sien vyf. Dit is deels hoekom hulle so maklik hul gekamoefleerde prooi kan opspoor.
  • Studies suggereer arende kan ’n dier so groot soos ’n haas van tot 1,24 km ver raaksien.
  • Die meeste arendspesies lê twee eiers, maar die ouer kuiken maak gewoonlik die jonger een dood. Die volwassenes meng nie in nie.
  • Die edelvalk (peregrine) is die vinnigste voël. Dit kan teen tot 350 km/h vlieg wanneer dit op prooi afduik.
  • Kort op sy kloue volg die goue arend, wat ten spyte daarvan dat hy groot en minder beweeglik as die valk is, teen ’n spoed van tot 320 km/h deur die lug kan duik.

Bronne: newsweek.com, euronews.com, onekind.org, dinoaminals.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer