Die Hollywoodster Anton Yelchin, bekend vir sy rolle in diverse flieks soos die wetenskapfiksie Star Trek, die rillerprent Fright Night en die aksieprent Terminator Salvation, is vroeg Sondagoggend in die ouderdom van 27 oorlede.

"Die akteur Anton Yelchin is dood in 'n noodlottige motorbotsing vroeg vanoggend," het sy verteenwoordiger in 'n verklaring bevestig.

Die oorsaak van Anton se dood word as 'n fratsongeluk beskryf. Volgens TMZ is hy deur sy eie motor by sy huis in San Fernando Valley, Kalifornië, vasgepen.

Volgens die nuusbron het Anton se vriende begin bekommerd raak toe die ster nie vir repetisies opdaag nie. Dis toe dat hulle hom reeds dood by sy huis aantref waar hy vasgepen was tussen sy motor en 'n baksteen posbus.

Die polisie het bevestig dat die motor se enjin nog aangeskakel was toe hy gevind is. Die motor was ook nie in rat nie. Dit is egter nog onduidelik presies hoe Anton tussen die motor en die baksteen posbus beland het.

Die 27-jarige Anton is in Rusland gebore, maar het na die Verenigde State verhuis toe hy net ses maande oud was. Hy het reeds vroeg begin toneelspeel en sy eerste rol op nege losgeslaan.

Bronne: Variety, TMZ, CNN