Anton Yelchin het nie lank gely voor hy op Sondag 19 Junie 2016 in ’n fratsongeluk omgekom het nie.

Die 27-jarige Star Trek-akteur se vriende het by sy huis in San Fernando Valley, Kalifornië, op hom afgekom waar hy tussen sy voertuig en ’n baksteenpilaar vasgepen was.

’n Woordvoerder van die lykskouer se kantoor in die Los Angeles-distrik het aan thewrap.com gesê Anton het binne ’n minuut weens traumatiese versmoring beswyk. Die beamptes by die lykskouer se kantoor het op Dinsdag 21 Junie 2016 bevestig sy dood word amptelik as ’n ongeluk beskou.

Die base van Fiat Chrysler, die vervaardigers van die 2015 Jeep Grand Cherokee wat Anton se lewe geëis het, bekyk ook die voorval, veral aangesien dié model in April 2016 onttrek is.

Beamptes by die Amerikaanse nasionale snelweg-en-voertuigveiligheidsadministrasie het vroeër ondersoek ingestel ná klagtes van bestuurders dat die model nie waarsku dis nog in rat nie en dus kan begin beweeg, sou die bestuurder die voertuig dan verlaat.

Die woordvoerder van Fiat Chrysler het aan BBC gesê dis nog te vroeg om te bespiegel oor die oorsaak; die maatskappy gaan ’n volledige ondersoek van stapel stuur.

Anton was gewild in Hollywood, en sy bekendste rol was sekerlik dié van Pavel Chekov in J.J. Abrams se herverwerking van die Star Trek-wetenskapsfiksiefilms. Hy sal ook as dié karakter te sien wees in Star Trek Beyond, wat in Julie 2016 in Amerika en Engeland uitgereik word.

Nadat die nuus oor Anton se dood bekend geword het, het sy medesterre aan hom hulde gebring. Zachary Quinto (Spock) het hom in ’n roerende huldeblyk as “goedhartig en besonder talentvol” beskryf.

© Cover Media