Scott Eastwood het openhartig gepraat oor sy verdriet nadat sy meisie in ’n motorongeluk omgekom het.

[caption id="attachment_134749" align="alignnone" width="600"]Foto: C.Smith/WENN.com Foto: C.Smith/WENN.com[/caption]

Danksy sy rol in rolprente soos Gran Torino en Suicide Squad is die 30-jarige akteur een van die gewildste sterre in Hollywood. Tog gaan Scott, seun van die rolprentlegende Clint Eastwood, minder uit as wat ’n mens sou verwag – om ’n hartverskeurende rede.

“’n Paar jaar gelede is my meisie in ’n botsing oorlede,” het hy aan GQ Australia gesê. “Dit was ’n ligte stampie, maar haar lugsak het ontplof. Dit het ’n projektiel deur haar liggaam geskiet. Dit is deur haar ruggraat en . . . ek het nooit met enigiemand daaroor gepraat nie. Ek het al voorheen vriende verloor; ek het ’n paar goeie vriende verloor. Maar ek het nog nooit iemand verloor met wie ek werklik intiem bevriend was nie. Dit is dalk hoekom dit tot dusver vir my so moeilik was om ’n verhouding te hê.”

Scott is baie onlangs romanties verbind met sterre soos Charlotte McKinney van Baywatch en Nina Dobrev van The Vampire Diaries.

Tog soek hy steeds na “die een”, al weet hy goed dit kan ’n moeilike soektog wees. “Dis maklik om verlief te raak as jy nog jonk is, nè?” het hy bygevoeg. “Dan begin jy besef die gevoelens van liefde, passie en lus kom soms baie gou, maar hulle kan ook baie gou oorwaai.”

Die akteur se gewildheid onder die teenoorgestelde geslag is niks nuus nie; ook toe hy ’n kroegman was, het hy die oog gevang. “Dit was miskien die wildste tyd,” het hy glimlaggend vertel. “Dit is steeds tonne beter as om in die rolprente te speel, of wat ook al. Dis steeds beter as dit alles, ’n duisend keer beter.”

© Cover Media