Die liefdeslewe van ’n glanspaar het laas soveel naakte, skaamtelose nuuskierigheid ontlok toe mense die eerste keer oor ’n romanse tussen Brad en Angie op die stel van Mr & Mrs Smith begin fluister het.

En kyk nou net, hier het Robert en Kristen ook uiteindelik uit die kas vir heimlik verliefdes geklim!

Aanhangers van die sexyste paartjie sedert Brangelina is skoon rasend van opwinding nadat Robert Pattinson, die vegetariese vampier Edward Cullen in die Twilight-rolprentreeks, ná al die maande erken het hy en sy mede-ster Kristen Stewart, Twilight se vurige Bella Swan, is inderdaad ’n paartjie.

Tot dusver het die aantreklike akteur en die beeldskone brunet kop geskud en gesê nee, hulle het nie ’n verhouding nie, al word maande lank al druk bespiegel dat dit wel so is. Selfs toe hulle gekiek is terwyl hulle hande vashou (Huisgenoot 19 November 2009), het hulle volgehou dis sommer niks.

Kristen (19) het heel ongeskik geraak as iemand haar oor ’n romanse uitvra, en Rob (23) het altyd effens vererg gelyk. Maar die Britse akteur moes toe van plan verander het, want ná die glansgeleentheid waar die Britse rolprent- en televisiepryse (Baftas) onlangs uitgedeel is, het hy vir ’n Britse koerant gesê hulle is ’n paartjie.